Skool met die GROOTste G(ee)! WENNER!
Vanaf 6 Mei 2022 het 13 skole aan vanjaar se splinternuwe GROOTfm 90.5 winterprojek deelgeneem. Die projek behels die ‘soektog’ na die ware essensie van gees! Die ‘s’ in die geval, staan vir sagmoedigheid, spanwerk, saamstaan en natuurlik, vrug van die Gees, wat wellewendheid en goedhartigheid beklemtoon.
Die droom was om ‘n wyer, groter verskil in die gemeenskap van Gauteng te maak, en die skole het die ‘gee’leentheid gehad om ‘n liefdadigheidsorganisasie van hulle keuse te kies, en volgens hulle spesifieke behoeftes goedere in te samel – van blikkieskos, sopbottels en klere. Die skole het dan hierdie goedere uitgepak in die vorm van ‘n ‘G’, wat gemeet was (lengte X breedte) en elke item is getel. Die getal leerders in die skool is ook in ag geneem, om nie kleiner skole te benadeel nie. Die formule het dan gesorg vir ‘n totaal, en daarvolgens is die ‘wenner’ van die ‘Skool met die GROOTste G’ aangewys. Die wen-skool, Monumentpark Laerskool, se ‘G’ het ‘n oppervlak van 24 800 m2 getoon, met 57 806 goedere ingesamel. Hulle gekose organisasie? Kairos en Generaal Nicholaas Smit. Die totale aantal goedere deur hierdie 13 skole, wat onderskeidelik vir 22 organisasies ingesamel het, beloop 157 923. Monumentpark Laerskool wen ‘n kontantprys van R10 000, en R20 000 vir Kairos en Generaal Nicholaas Smit – die organisasie vir wie hulle ingesamel het.
Die deelnemende hoërskole sluit in Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Duo Edu Senior Onafhanklike Skool, Hoërskool Eldoraigne, HTS John Vorster, Montana, Overkruin en Waterkloof. Die laerskole wat deelgeneem het sluit in Laerskool Bakenkop, Curro Hazeldean, Elarduspark, Lynnwood, Menlopark en Monumentpark. Organisasies wat gedurende die projek ondersteun is, is “Dynamic Women for Children”, Eleos, Generaal Nicholaas Smit, Gidshond-vereeniging van Suid-Afrika, “Gift of the Givers”, Harmonie Park tehuis vir bejaardes, Helpende Hand, Huis Jabes, Jakaranda Kinderhuis, Kairos, “Kungwini Welfare Organisation”, Moegesukkel, PEN, “Walking on Water”, Wespoort-Uitreikprojek, Wetnose Diereskuiling, Wollies Diereskuiling, “Clothes to Good” en deelnemende skole se eie onderskeie liefdadigheidsbene vir behoeftige leerders.
Sonet Stofberg, projekkoordineerder, het sê alhoewel hierdie nie ‘n kompetisie was nie, maar eerder ‘n ‘gee’leentheid om ‘n GROOT verskil te maak, die prysgeld daargestel is as ‘n simbool van dankbaarheid. “Om iemand te bemagtig wat ander bemagtig. Dit gaan nie oor die wen nie, maar die oorwinning. Dis uiteindelik wanneer ons gee, wat ons die meeste ontvang.” Deur die banke was die boodskap, “mag jy verlief raak op die gevoel wat jy kry wanneer jy gee, en mag hierdie gevoel van verliefdheid ontwikkel in ‘n onblusbare verhouding in waarmee jy veldbrande van verskilmaak veroorsaak”. Baie van ons dink ons moet ‘n hospitaal bou om ‘n verskil te kan maak, waar die groot verskilmaak in die klein aksies lê. Die verskilmaak begin die oomblik wanneer iemand hulle hand opsteek, na ‘n kos- of klerekas toe stap en ‘n item uitkies wat vir iemand die wêreld beteken. ‘n Item wat net nog ‘n bewysstuk word van die Here se guns en goedheid. Inderdaad is Hy die lig van die wêreld, en ons die lig vir die wêreld.
‘n GROOT dankie aan elke skool, personeellid, beheerliggaamlid en leerder wat hulle gees en GEE gewys het. Wat gesorg het dat iemand, wat voel hulle word nie raakgesien nie, raakgesien word. Dat iemand wat niks het nie, bevestiging gekry het dat die Here hulle nog nooit verlaat het nie. Dankie aan almal wat hande en harte gevat het om ‘n ‘gee’meenskap te vestig wat ‘n volgende ‘gee’meenskap sal mobiliseer om dieselfde te doen.
Galasiërs 6: 9 – En laat ons nie moeg word om goed te doen nie…
Tot volgende jaar se ‘Skool met die GROOTste G!’ Op jou merke, gereed, GAAN GROOT!
As jou skool belangstel om deel te neem aan ‘Skool met die GROOTste G(ee) 2023’, stuur ‘n epos na sonet@grootfm.co.za.
Deel hierdie artikel