You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – As jy niks behalwe HOOP het nie…

#JouMenseMyMense saam met SPAR – As jy niks behalwe HOOP het nie…

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – As jy niks behalwe HOOP het nie…

Dit gaan bitter swaar met Mari en Drikus van der Merwe. Dis asof hulle omstandighede net te veel en te groot geraak het. Hulle wil opgee, maar ons weet, soos in Romeine 5:3 – 5 staan, “dat swaarkry volharding kweek, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie.” Want, dis presies wat hulle het. Hoop. Haar WhatsApp status het die oggend van ons kuier gesê: “Here sit asb iemand op ons pad…. Ons het regtig hulp nodig ek bid uit my hart uit”. Na aanleiding van ‘n vriendin en oud-kollega, Madeleen, het GROOTfm 90.5 gaan kuier om hulle te help met ‘n #HOOPstoot.

Madeleen se epos lees as volg:

“Ek rig die verdien namens ‘n dierbare vriendin en oud-kollega – Mari en Drikus Van Merwe.

Mari is ‘n gekwalifiseerde kleuterskool juffrou wat haar werk voor Covid al verloor het weens velkanker wat by haar gediagnoseer is. Weens die feit dat hul geen medies het nie en afhanklik is van staatsbehandeling, en die feit dat sy ‘n diabeet is, het sy haar voet verloor. Haar man, wat ook sukkel om werk te kry, probeer maar om die pot aan die kook te hou deur privaat werke te doen. Sy het aansoek gedoen vir Sassa, maar is afgekeur want volgens die owerhede, kan sy ‘n ‘sittende werk’ kry.  

Op die oomblik gaan dit vreeslik sleg by hulle. Albei het geen inkomste, geen vervoer, geen kos en is uitgesit uit hul plek weens agterstallige huur. Geen noodsaaklike medikasie of voedsame kos het nou sy tol begin eis.

As daar iemand is wat kan help weet ek dit is julle. Help my vriendin asseblief.”

Madeleen sê verder: “Hul onmiddellike behoeftes is kos, huur en werk. Dit gaan sleg.”

Mari en Drikus het ‘n geleentheid gekry om aan die einde van die maand in ‘n 3x6m ‘Wendy-huis’ te gaan woon naby Drikus se broer. Hier sal hulle opnuut omring wees deur familie en die nodige ondersteuning vir daai #HOOPStoot waarvoor hulle al so lank bid. Intussen, het GROOTfm 90.5 vir hulle gaan kuier, en vir ‘n onmiddellike #HOOPstoot gesorg deur middel van SPAR, met ‘n geskenkbewys van R1 500, ‘n gasbottel, en ‘n finansiële donasie te danke aan Ecomed Medical – sodat hulle hul nuwe huisie kan inrig vir die volgende hoofstuk.  

Liewe Mari en Drikus, ons weet julle hou al vir so lank moed, en byt al vir so lank vas. Net nog vir so bietjie. Totdat julle in julle nuwe huisie is. Totdat jy jou nael-besigheid weer kan begin. Totdat Drikus weer ‘n vaste werk en inkomste het. Ons vertrou saam met julle vir ‘n nuwe, helder vooruitsig. Dit voel moontlik asof die lewe van julle vergeet het, maar ons weet, die Here het nie, en sal ook nooit. Julle het al soveel verloor. Mag julle net nooit julle hoop verloor nie.

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply