You are currently viewing #JouMensenMyMense – 10 Sep 2019 – Toe dinge reggekom het…

#JouMensenMyMense – 10 Sep 2019 – Toe dinge reggekom het…

Deel hierdie artikel

Sy wou ons eers by die baksteenhuis op die erf in Pretoria-Wes invat sodat ons daar kan gesels. “Julle sal sien ek het niks in my wendyhuisie nie… En dit raak warm.” Maar dis daar op die vloer van *Jackie se “dak oor haar kop” wat sy haar storie vir ons vertel van ‘n gebroke huis en gebroke verhoudings, alkoholisme, dwelmhandel en -verslawing, ontvoering en verkragting, mishandeling, misbruik en ‘n miskraam, prostitusie en godsdiens, haar HIV status en lewe op straat en haar swerf van rehab en shelter tot waar sy vandag hier is – eerder arm en honger, maar skoon vir die laaste 6 jaar. Dis *Wilma se briefie wat ons tot hier gebring het: “My mamma hart breek as ek sien hoe hard sy probeer en hoe alleen sy is.” Wilma is nie direkte familie van Jackie nie, maar wel die afgelope 6 jaar die pleegmamma van Jackie se 2 dogtertjies. Toe ons Maandag met haar oor die foon praat het sy verskoning gevra omdat sy nog in die bed was. “Maandae, Woensdae en Vrydae is chemo-pil dag.” Wilma is 11 jaar gelede die eerste keer met kanker gediagnoseer. Sy leef dag vir dag en wanneer haar krag genoeg is bak sy vir ‘n ekstra inkomste. Sy kan nie meer werk nie as gevolg van haar gesondheid en haar man is ‘n ambagsman. Jackie is 7 jaar gelede deur ‘n groep mans ontvoer en vir 2 weke lank in ‘n veiligheidskompleks aangehou. Wilma het saam met die polisie gewerk tot hulle haar opgespoor het. “Hulle het die geweer gelaai en teen my kop gehou. Ek weet nie hoekom het hy nie afgegaan nie, maar ek sou nie geleef het as dit nie vir Tannie Wilma was nie,” vertel Jackie. Haar jongste dogtertjie was maar 18 maande oud en dis toe wat die twee kinders by Wilma en haar man gaan bly het. Wilma het Jackie belowe sy sal hulle nooit ooit los nie en tot vandag toe sorg sy sover as wat sy kan – nie net vir die dogtertjies nie, maar ook om seker te maak dat Jackie weer op haar voete kan kom. “Jy vra my waar alles skeefgeloop het in my lewe, ek sal jou nie kan antwoord nie,” sê Jackie. “Maar dalk kan ek eendag vir jou sê waar alles reggekom het…” Soos ons met Wilma se mamma-hart wat duisende kilometers ver sit, die kruideniersware, toiletware en vitamiene van SPAR in Jackie se wendyhuisie indra saam met die sakkie grimering wat Wilma so graag vir haar wou gee, hoop ons dat hierdie oomblik eendag deel sal wees van Jackie se “toe dinge reggekom het” storie…

#JouMenseMyMense #JMMM #Dinsdag

Deel hierdie artikel

Leave a Reply