#JouMenseMyMense saam met SPAR – Raadop
Martin Pitout se suster het vir ons ‘n brief geskryf wat lees: ‘Vandag skryf ek die brief met ‘n baie seer hart. My broer, Martin Pitout, het einde Julie vanjaar sy werk verloor. Hy het as ‘n kontrakteur gewerk, maar as gevolg van die Covid-pandemie en gevolglike afleggings het hy sy werk verloor. Hy het op die 18de Augustus ‘n baba dogter ryker geword en my hart breek vir haar. Hy het ook twee ander kinders – een is 12 en die ander een is 7 jaar oud. Hy en sy vrou Heleen, wat nie werk nie as gevolg van haar tande, en sy drie kinders woon in Mountain View. Hy het al talle CV’s uitgestuur, maar niemand kom terug na hom toe nie. En dan het sy kar ook nog intussen gebreek. Ek probeer help waar ek kan, maar dit is ook maar moeilik. Ek is moedeloos en raadop, want ek kry daai kindertjies so jammer. Hoe sê mens vir hul daar is nie kos nie? En hoe maak mens met ‘n ou babatjie? Ek weet ook nie hoe hul die huur aan die einde van die maand gaan betaal nie, en staan die kans om hulle woonplek te verloor. Ek vra verleë indien moontlik, of daar ‘n kans is of julle hulle sal kan help met kos of doeke of net melk vir daai arme kleinding en die kinders. Of as jul weet van enige iemand wat vir hom ‘n werk kan aanbied.’
As pappa en mamma van hulle gesin voel Martin en Heleen ongekende skuldgevoelens. Hulle noem dat hulle 11-jarige seun tans die een is wat hulle positief hou. Dat hy self ‘n R5 wat hy met ‘n karwas verdien aan hulle gee. Hy en sy 7-jarige sussie woon nou by hulle peetma – ‘totdat dinge beter raak’, sê Heleen met trane in haar oë. Hulle grootste wens is om nie weer in ‘n plakkerskamp te beland nie – hulle het reeds tweekeer uit hierdie tipe omstandighede gestyg. Die laaste ding wat hulle geëet het was ‘n klein pakkie pasta. Hulle grootste behoefte is ‘n werk vir Martin – iemand wat vir hom ‘n kans sal gee. Nog behoeftes sluit in klere vir hulle 2 maande-oue baba dogter, hulle 11-jarige seun, en hulle 7-jarige dogter.
Martin is gekwalifiseerd om in konstruksie te werk, en sê hy sal enigiets doen, net solank hy die pappa vir sy gesin kan wees, waarvan hy nog altyd droom.
Heleen moet herstelwerk doen aan haar tande, voordat sy weer met selfvertroue die werksplek kan betree. Sy wil ook hieruit, en met haar hele hart haar kinders by haar hê, maar weet, daar waar hulle nou is, is vir nou, beter. Haar hart is gebreek. Ons kan dit sien.
Liewe Martin en Heleen, ons verklaar dat vandag daai keerpunt is waarvoor en waaroor julle al vir so lank bid en vra en verklaar. Mag julle op julle knieë bly, maar mag julle opstaan vanuit hierdie agtervoet-posisie. En mag julle floreer, soos Hy dit wil hê.
‘n GROOT dankie aan Superspar Moreleta vir kruideniersware ter waarde van R2 000. Ook aan die SPAR-groep dat ons hierdie gesin met ‘n verdere R2 000-geskenkbewys kon Seën.
Fotos: Jislaai-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: