In Mei 2019 is ‘n biopsie gedoen op ‘n groeisel op 36-jarige Jessica Liebenberg se rug. Die chirurg het bevestig dat dit ‘n kwaadaardige melanoom is en aanbeveel dat hulle ‘n groter gedeelte van die tumor uitsny en dan ‘n middel in haar limf spuit wat bepaal of die kanker versprei het. Jessica se werksituasie was onseker in daardie tyd en die eerste kwotasie wat hulle gekry het was meer as R40 000. Jessica is deur Cansa na Triomfkliniek in Pretoria-Wes verwys en daar het Dr Meyer haar dienste aangebied. Hulle moes net self vir die hospitaal en nucleur medisyne betaal wat ‘n bedrag van ongeveer R10 000 was. Jessica se tannie, Sylvia het dadelik die dringendheid van die volgende operasie besef. Sy het die familie begin bymekaar maak en ook vir ons ‘n briefie gestuur met ‘n verduideliking van Clarke level 4 en ‘n versoek of ons nie asseblief kan help met die uitstaande bedrag nie. Die familie het in daardie stadium al R4000 bymekaar gemaak, maar daar was nog ‘n stewige bedrag uitstaande. Jessica het Donderdag 26 September gehoor dat die operasie Dinsdag 1 Oktober by Pretoria-Oos hospitaal sal wees en ons hart was toe om daardie oggend by Jessica in te loer en dan die balans wat nog uitstaande was te betaal, maar teen die Maandagmiddag 16:00 het nog twee familielede ingespring om die laaste gedeelte te skenk. Ons kon Jessica darem so vinnig voor haar operasie sien en ‘n geskenkkaart van SPAR saam met ‘n Faith Durie gebedskussing vir haar gee om haar vir altyd te herinner aan ‘n gemeenskap se omgee. Haar man, Chris het namens hulle gesin en ook hulle twee kinders, ‘n 13-jarige dogter en 8-jarige seun dankie gesê vir almal wat gehelp het. En toe het hulle beide se opregte dankbaarheid vir die R5000 bydrae van Capital Singers, ons almal met ‘n ou groot knop in die keel gelaat… Ons kan almal Chris se woorde beaam: “Daar is nog soveel goeie mense…” *Chris het ons laat weet toe Jessica uit die teater gekom het. Dr Meyer moes diep sny om al die worteltjies te verwyder. Die klier onder haar arm is ook verwyder en nou wag hulle vir verdere uitslae. Jessica het ook later terug by die huis ‘n boodskap gestuur om weereens dankie te sê vir die geskenke.
Vir al die fotos volg graag hierdie skakel na ons FaceBook blad: #JouMenseMyMense – Jessica Liebenberg 1 Okt 2019
Deel hierdie artikel