You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Bak jouself uit die moeilikheid uit

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Bak jouself uit die moeilikheid uit

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Bak jouself uit die moeilikheid uit

Arend Moll en die liefde van sy lewe, Sonja, het die harte van die Oosters gewen met hulle koeksister-advertensies op die Facebook-gemeenskapgroep,  “Ek is van die Ooste”. Arend was vir ’n ruk werkloos en hulle het toe begin koeksisters bak. Elke keer wanneer hulle ’n behoefte aan iets het, het hulle baie spesifiek gevra vir hulp vir daardie uitdaging. Hulle het nooit gevra vir geld nie. Arend en Sonja het somme gemaak en dan vir die Oosters gesê hulle moet 5 dosyn koeksisters verkoop om die spesifieke uitdaging te oorkom. Mense het so ingekoop in Arend-hulle se lewe en daar is selfs mense wat koeksister koop wat nie eers suiker eet nie. Hulle werk hard om kos op die tafel te sit, en soos hulle sê, “bak hulleself uit die moeilikheid uit”.

GROOTfm 90.5 het gaan kuier, want hulle storie en gepaardgaande dryf het hulle reeds so inspireer…En, die varsgebakte koeksisters vir ontbyt was ’n onverwagse, tog GROOT bederf!

Arend en Sonja se pragtige dogtertjie is omtrent ’n maand terug gebore in Tshwane Distrik Hospitaal en hulle is ook oorval met geskenke van die groep. Nie net was dit die geskenke nie, maar stroom die bestellings in. In ’n boodskap wat Sonet Maandag ontvang het, kan jy die vreugde in Arend se stem hoor hoe hy vertel dat hulle nog 100 dosyn koeksister-bestelling gekry het vir die week. Dat dit blyk of hulle iemand gaan moet aanstel om hulle te help. Soos hy sê met vreugde wat oorloop in sy stem, “van werkloos tot werk gee”.

Arend en Sonja is blymoedig ten spyte van hartseer. Dankbaar ten spyte van ‘min’. Nederig ten spyte van sukses. Hulle koeksisters het soveel meer geword – soos die broodjies en die vissies. Soveel meer as net ’n soetding of lekkerny vergesel met ’n koppie tee. Hierdie gebak het ’n simbool geword van waagmoed, uithouvermoë en oorwinning! Ja, nie net vergesel deur ’n koppie tee nie, maar deur ’n kragtige, lewensveranderende getuienis wat mense wyd en syd inspireer. Sonja sê self, jy staan nie bak-hand en bedel nie. Jy werk vir jou geld.” Hulle staan soms tot oggendure en bak, met die wete dat daar ’n skare mense wag op hulle heerlike produk.

Hulle harte loop oor van vreugde, en nou en dan, wanneer hulle gekonfronteer word met hoe dinge was, raak beide Arend en Sonja bewoë. Dan, in ’n sekond, oorval die dankbaarheid hulle van waar hulle vandag staan, en, vertel hulle met oorgawe hoe hierdie nuwe hoofstuk en proses werk. Sonja is baie streng met die koeksisters wat verpak word. Sy is ’n volwaardige “quality controller” en as een ‘vlegseltjie’ anders lyk as die res, kom hy nie in nie…Want, die kliënte verwag net die beste, en daarom sal hulle net die beste kry.

Arend en Sonja se voertuig gee vir hulle tans moeilikheid, maar hulle weet daar sal weer ’n bestelling wees wat aan hierdie behoefte gewy sal word. Dat hulle hul uitdagings stuk-stuk sal oorwin met elke koeksister-bestelling. Dit was vir ons ’n groot voorreg, om met behulp van SPAR, vir hulle ’n R3 000-geskenkbewys te kon gee – vir bestanddele en kruideniersware.

Liewe Arend en Sonja, julle oorwinning is soet – figuurlik, maar ook letterlik. Ons is saam met julle opgewonde oor die koeksister- en roomyswinkel waarvan julle droom, en verklaar in Jesus Naam dat hierdie droom binnekort ’n realiteit sal word. Ons droom saam met julle oor dit, maar ons droom ook dat julle storie nog soveel meer mense sal aanmoedig om nooit moed te verloor of op te gee nie. Sodat almal wat deur ’n uitdagende tyd gaan, nie net die soet van julle koeksisters sal proe nie, maar ook die soet van julle oorwinning in hulle eie lewe sal ervaar.

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel