You are currently viewing #JouMenseMyMense – Om weer te kan sien, 15Okt’19

#JouMenseMyMense – Om weer te kan sien, 15Okt’19

Deel hierdie artikel

Die oogspesialis, Dr. Marcel Niemandt poog om elke jaar (reeds die afgelope 9 jaar) tydens “Eye Care Awareness Week” vir behoeftige persone die geskenk van sig te gee met gratis katarakchirugie. ‘n Groot geskenk met ‘n operasie wat ongeveer R25 000 per oog beloop. Vir hierdie jaar se “geskenke” ter waarde van altesaam R1 125 000 het die identifisering van pasiënte reeds in April begin met organisasies soos Helpende Hand, Helplift en Operation Healing Hands wat gehelp het om die regte persone te identifiseer. Die kriteria is onder andere lae inkomste en geen mediesefonds nie en die persoon moes al aansoek gedoen het by die staat. Daar was meer as 100 aansoeke waarvan 45 pasiënte tussen Maandag 14 en Dinsdag 15 Oktober geopereer word. Van ‘n “Gogo” wat hierdie jaar ‘n 100 word tot mense wat ekstra werk moes doen net om die petrolgeld bymekaar te kry om vir die oogondersoek te kon kom. Dr Niemandt gee sy tyd en Intercare Hazeldean borg die teatertyd. Elke pasiënt het ‘n storie… “Strooptyd is om die draai hier by ons in die Vrystaat. Een van ons werkers, Kapok is maar 36 jaar oud en het geen meer sig in beide sy oë nie. Kapok is een van ons beeswagters wat so getrou werk, altyd bereid om ‘n ekstra myl te loop en jy kan net dink hoe dit vir hom moet wees om nie meer elke dag in die natuur te kan wees soos hy gewoond is sy lewe lank nie.” “Die Bela-Bela provinsiale hospitaal het vir Ann Susan gesê hulle kan haar eers help wanneer sy bykans blind is. Sy doen naaldwerk om haar staatspensioen aan te vul, maar kan nie meer die garing deur die naald kry nie en kan ook nie meer bestuur nie as gevolg van haar swak visie.” “Oom Danie het sy eie besigheid gehad, maar met die veranderinge in die land moes hy toemaak. Hulle kon ‘n rukkie oorleef op die geld van die besigheid, maar na ‘n wyle was dit uitgeput. Hy het ander werk probeer kry, maar omdat hy skaars kon sien, was dit moeilik. Vyf jaar gelede was hy by ‘n staatshospitaal om uit te vind of hulle hom kan help met katarak-chirurgie. Tydens die ondersoek het hy ‘n virus in sy oë opgedoen, wat onuithoudbare pyn veroorsaak het en daarna het sy oë baie vinnig agteruit gegaan. Hy was toe te bang om weer terug te gaan staatshospitaal toe. Oom Danie en sy vrou het geen heenkome gehad nie tot ‘n vroutjie in Parys wat haar man verloor het en self koekies bak vir ‘n inkomste, hulle ingeneem het. Dis ‘n 35km grondpad in dorp toe en Oom Danie kan nie sien nie, so sy vrou wat met tye epileptiese aanvalle kry en ook nie ‘n bestuurslisensie het nie, moes die pad aandurf om hom in Pretoria te kry.” Danksy ons vriende van SPAR kon ons vir Oom Danie en sy vrou ‘n SPAR geskenkkaart gee en ‘n finansiële bydrae maak vir die rit terug huis toe. Die geskenk van Dr. Niemandt en Intercare is soveel meer as net sig. Dis die geskenk van werk en ekstra inkomste, van trots om weer self te kan sorg en voorsien. Die geskenk van vryheid om te kan beweeg en die natuur weer te geniet en die geskenk van ‘n stukkie herwinde onafhanklikheid…

 

 

Vir die res van die fotos gaan loer graag op ons FaceBook blad: #JouMenseMyMense – Om weer te kan sien, 15Okt’19

Deel hierdie artikel

Leave a Reply