Freda het ‘n goeie pos by ‘n motorhandelaar gehad. Toe sy egter met diabetes gediagnoseer word, het haar man, wat in daardie stadium by dieselfde maastappy gewerk het, aanbeveel dat sy bedank en tuis bly om aan te sterk. Ongelukkig het hulle huwelik verbrokkel en Freda en haar seun, Gerald se finansiële ondersteuning het begin verval. Gerald het ‘n gaming winkel bedryf. Dit was sy manier om by te dra tot die huis paaiement wat die pa nie meer betaal het nie, maar sy besigheid het finansieël agteruit begin gaan tot hy die winkel op die ou end moes verkoop. Freda en haar seun kon vir ‘n rukkie op die winkel se geld oorleef, maar moes onlangs trek na ‘n woonstel in Pretoria-Noord. Sy kry slegs ‘n SASSA pensioen en hulle sukkel om die huur by te bring. Freda moes oogoperasies ondergaan, het TB gekry en was baie siek – in en uit die hospitaal. Sy is uiteindelik ook nou met nierversaking gediagnoseer. Sy het dus spesiale dieëtkundige behoeftes terwyl hulle werklik kosnood het. Gerald het nog voorraad van sy winkel wat hy adverteer. As hy gelukkig is verkoop hy iets vir ‘n ekstra inkomste. Freda se jarelange vriendin, Christelle het vir ons die briefie gestuur. Sy probeer help waar sy kan. “Ek ken vir Freda seker al 15 of 20 jaar, maar toe haar seun verjaar en sy hartseer vertel dat sy niks vir hom kan doen nie, het ek en my man vir hom ‘n braai gehou en ‘n klein geskenk gekoop. Hulle het die dag so geniet. Freda en haar seun kom nie veel uit die huis uit nie, want Freda is swak. Haar tone is al septies van die suiker en nou het sy nie meer ‘n salfie nie. Dit breek my hart om te dink hulle het soms net brood om te eet. Ek het ‘n engel gesoek wat saam met my vir Freda en haar seun die lewe bietjie beter kan maak en ek ken mos my mense by GROOTfm…”
Vir al die fotos volg die skakel: ‘n Engel vir Freda – 22 Oktober
Deel hierdie artikel