#JouMenseMyMense saam met SPAR – HO is huis toe!
Janie Denyssen het vir ons ‘n e-pos gestuur wat lees:
“Ek is al meer as 20 jaar ‘n kollega van Marietjie van Wyk (64) wat in 2010 haar oorlede broer se Downsindroom seun, HO, toe 26, nou 36 as haar eie aangeneem het. Sy tree vandag af dit het die afgelope twee jaar soos met almal finansieel moeilik gegaan en die Oord waar HO woon, se kostes beloop R9 600 per maand. Marietjie het agterstallig geraak en skuld nou R200 000, waarna sy nie meer kan bekostig om verdere maandelikse fooie te kan betaal nie.
Aangesien sy nou aftree, sal sy hom moet uithaal, wat sal veroorsaak dat hy gaan stagneer en nie meer tussen mense soos hy kan wees nie, wat hul normaal laat voel aangesien hul daar als vir hulself moet doen wat hul ontsaglik help. Ek het nooit geweet sy is in die moeilikheid nie, want sy kla nooit en gaan net aan. Sy sê altyd die Here sal nie iets voor jou voete lê wat jy nie kan hanteer nie, wat waar is, maar soms is ‘n bietjie hulp welkom.
Kan u saam met GROOTfm 90.5 help dat ons ‘n fondsinsameling hou om haar te help met HO se agterstallige fondse?”
Toe kom daar nog ‘n epos, ‘n paar dae later…waar Janie ons laat weet dat HO oorlede is. Hy was 39, en die oorsaak van sy dood was hartversaking. Dit was op sy verjaarsdag.
Marietjie se hart is onbeskryflik seer. Nie net verlang sy na HO en sy groot karakter nie, maar hang die skuld oor haar kop wat sy nog maandeliks moet delf – met HO wat nie meer daar woon nie. Sy sê sy gee nie om nie, want sy betaal dit vir die ander wat nog daar woon. Om na hulle te kyk. Sy is nog baie betrokke daar, en vervul ‘n groot rol in die beheerliggaam van die Oord PV3. Sy het met haar aftrede, ‘n derde van haar pensioen getrek om ‘n groot gedeelte van die skuld te vereffen.
HO se ma is oorlede toe hy baie jonk was. Daarna was di thy, sy pa en sy Tannie Marietjie, wat hulle oor hom ontferm het. Saam met die baie bekwame span van die Oord PV3. Toe HO 26 was, is sy pa oorlede…en toe was dit net Marietjie en die Oord PV3 wat na HO omgesien het. Min wetend watse groot tragedie nog vir Marietjie voorlê, het sy met hart en siel, en skrapse finansies, in HO se lewe belê. Sy is ’n pragtige vrou met sagmoedigheid soos min. Haar deernis syfer deur haar trane soos sy foto’s en video’s van HO deel. Liewe Marietjie, mag jy vrede vind. Mag jy die vrug dra van jou onvoorwaardelike liefde en omgee. En mag Hy uitkoms en verligting bied. Alles sal uitwerk, en die deurbraak, gaan groot wees! Ons dink aan jou, en ons bid saam met jou! Mag jy die herinneringe van HO en jou broer koester. En mag jou hart genees. Al is dit die dag wat jy ook ‘huis toe’ gaan.
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: