Erens Swanepoel (47) van Booysens in Pretoria-Wes is blind gebore. Sy vrou, Christelle en jongste seun (6) het ook verskillende gestremdhede. Ouboet (8) is baie gelukkig in die skool en vir Erens is dit ‘n daaglikse hoogtepunt om saam met sy seun skool toe te stap. “Dis wanneer hy my vertel van sy drome en ek hom sommer ‘n paar Wiskunde somme ook vra,” vertel Erens. Erens het in ‘n stadium by ‘n call centre uitgehelp en is rekenaargeletterd, maar toe hy vir ‘n rukkie sonder werk was, het hy en Christelle, wat beide slegs ‘n SASSA toelaag kry, ‘n herwinningsprojek by die huis begin om te kan oorleef. Die papier en karton, blikkies, doppies en plastiekbottels staan ‘n groot deel van die erf vol en selfs ‘n vertrek in die huis word ingespan. Hulle hoop wel om die agterplaas bietjie leeg te werk sodat die kinders ‘n groter speelarea sal hê wanneer die skoolvakansie aanbreek. Erens kan dalk nie sien nie, maar hy ken sy omgewing en stap saam met ons langs die verskillende hope afvalmateriale verby terwyl hy verduidelik van die karton wat onder die seil toegegooi is, die trailer met die dromme op en die glas wat hy self hanteer, want hy wil nie hê sy vrou of kinders se hande moet sny nie. Hy voel die teksture om te onderskei tussen die verskillende materiale en hy voel ook die geld wanneer hy betaal word daarvoor. Dis mense wat hulle ken en veral die gemeente waarvan hulle deel is, wat vir hulle afval papier, plastiek en glas bring om te herwin. Een van hulle kerkvriende, Alec Pelser het vir ons ‘n briefie gestuur na hy gesien het hoe Erens en Christelle met ‘n groot gesukkel wasgoed in die bad trap omdat hulle nie ‘n wasmasjien het nie. Ons het toe by Anton Smit van Helpende Hand se “Ons Winkel” en Centurion-vrywilligertak aangeklop en hulle het vir die Swanepoels vandag ‘n wasmasjien met sommer ‘n boks vol seep en wasmiddels geskenk. “Ek sal knee pads moet dra vir al die dankies op my knieë,” was Erens se woorde toe ons hulle, danksy ons vriende van SPAR, ook met ‘n ruim skenking van kruideniersware kon verras.
Vir al die fotos volg die skakel: Swanepoel gesin – 12 November 2019
Deel hierdie artikel