#JouMenseMyMense saam met SPAR – Eleos sopkombuis bring Hoop, Woord en Waarheid
Ek dink aan Mattheus 4:4 wat sê: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom’. Dit is presies wat by Eleos se sopkombuis gebeur. Daar is soveel meer as ‘n kospakkie en ‘n glasie koeldrank.
Ons gesels met Tannie Susan Cornellius wat die sopkombuis as ‘n hawelose bygewoon het. En nou? Nou werk sy as vrywilliger daar. Sy spreek ‘n skare mismoed toe, en haar hoof boodskap: ‘Kry die Here in julle lewe! Laat Hom toe om julle te help en te inspireer.’ Estelle van Eleos is volgende aan die woord, en sy herinner ons dat Hy vir ons almal die kruis gedra het. Dat ons betekenisvol en waardevol is.
Ons ontmoet verskeie rolspelers; die span van Eleos – Estelle, San Karin, Clariza, Olga en Tertia – Christo Brits, ‘n vrywilliger by die sopkombuis wat bedien en sendingwerk tussen die hawelose mense doen, die span vrywilligers, Anna en Loraine met hul span van ‘Women on the Move’, Catrien van die gemeenskapspolisieforum. Dan is daar die groep wat hiernatoe kom vir ‘n kospakkie, maar vir meer as dit, vir Woord en Waarheid. Van die vele sopkombuis-eregaste sluit in Pierre du Toit (wat ‘n Bybel-toepassing wil skryf), Oom Jannie Labuscagne, Johan en sy pragtige hond, Louise en Phillip. Oom Jannie Labuscagne en sy vrou, Heillie (wat groot GROOTfm 90.5 aanhangers is), versorg tans ‘n bejaarde paar, Oom Jakes en Tannie Marie Jacobs, wat alles verloor het toe Oom Jakes siek geword het. Oom Jannie het self geweldige trauma ervaar toe hy sy stembande verloor het met keelkanker. Sy hart is goud, en daar is altyd plek vir nog mense in hulle huis.
Ek vra vir almal dieselfde vra, en hulle antwoorde stem ook ooreen. Hulle almal sê met die grootste oortuiging hulle weet die Here is vir hulle lief. Dat Hy hulle nooit sal verlaat nie. Dat hulle weet hierdie is nie die lewe wat Hy vir hulle wil hê nie. Hulle weet dit alles. Hulle weet net nie hoe om hieruit te kom nie.
Die skare sit nog vir ‘n rukkie onder die bome op die Nederduitse Hervormde Kerk Daspoort se terrein – en probeer alles waaraan hulle pas herinner is, in te neem. Hulle vaar weer terug na hulle omstandighede toe, met die hoop om eendag aan die anderkant van hierdie sopkombuis te staan. Mag ons mekaar aanhou herinner aan die waarheid, sodat daar uiteindelik nie plek is vir die leuen van minderwaardigheid, hopeloosheid en verwerping om te manifesteer nie.
Om betrokke te raak by JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: