You are currently viewing #JouMenseMyMense – Marika de Klerk – 19 November 2019

#JouMenseMyMense – Marika de Klerk – 19 November 2019

Deel hierdie artikel

Jy sien Marika de Klerk se omgeehart in elke plasing op haar Facebookprofiel – dis van boere in nood en honger kinders tot werkskepping en orgaanskenking. Dit was nog altyd haar wêreld… Marika het jare lank by Sungarden Hospice gewerk en in 2010 die Pretoria Wes Gemeenskapsforum begin. Die doel van die forum was om ‘n gemeenskap nader aan mekaar te bring – om al die verskillende niewinsgewende hulporganisasies wat in die weste van Pretoria werk te help om kragte saam te span in ‘n ondersteuningsnetwerk tot voordeel van die gemeenskap wat hulle met dieselfde hart en passie dien! Toe die Stadsraad van Tshwane vir haar erkenning gee vir haar bydrae, was haar reaksie: “Maar ek het nie veel gedoen nie! Die werklike dank gaan aan elke omgee-mens wat in die gemeenskap werk. Julle is my helde! Al wat ek gedoen het was om julle om een tafel bymekaar te kry.” En dit was einste aan een so lang tafel waar lede van die forum vanoggend bymekaar was toe ons vir Marika kon verras. Marika het graad 4 borskanker en is al amper 2 jaar in en uit Steve Biko hospitaal vir behandeling. As ander oor die staatshospitale kla en kritiseer, sal sy sê sy voel geseënd en dankbaar, want daar is sy saam met mense wat dalk nog sieker is as sy, mense wat al 3 uur die oggend moes opstaan om 5 taxi’s te vat om by die hospitaal te kan kom. Sy het familie wat haar ondersteun terwyl baie ander heeltemal alleen is. “Ek huil elke keer as ek gaan uit soveel empatie vir my medemens en ek bid soms die hele dag lank vir dié wat nie so gelukkig is soos ek nie.” Jy kan nie dink hoe seer haar liggaam eintlik is as jy na die dankbaarheid en opgewondenheid in haar stem luister nie. Alhoewel sy die voorsitterskap van die forum oorgegee het, het sy nog soveel planne en idees met ‘n positiewe realisme van twee tree vorentoe en môre dalk weer een tree terug, maar vorentoe sal ons gaan. Marika se maandelikse medikasie is redelik duur, maar sy probeer steeds in haar eie behoeftes voorsien. Sy het ‘n Virtual Assistance besigheid van die huis af begin om ander mense se “te doen lysies” vir hulle leeg te werk. Danksy ons vriende van SPAR kan ons hierdie merkwaardige vrou vandag bederf met ‘n geskenkkaart en Capital Singers het ‘n R5000 bydrae gemaak vir haar medikasie. Die gebedskussing is sommer net ‘n tasbare dankie en herinnering aan Ps.91:11 “Hy sal Sy Engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.” Tersia Gouws het in Augustus 2017 vir Marika ontmoet by die Versorg die Versorger funksie wat GROOTfm by Leriba Lodge aangebied het. Sy is die een wat die briefie vir ons gestuur met hierdie woorde: “Ek ken haar nie so goed nie, maar van die kantlyn af wil ek net vir haar sê, dat haar mooi hart en haar moeite vir ander, selfs in haar moeilikste tye, meer harte raak as wat sy ooit sal besef. Mag God se genade, in oorvloed, sag op haar reën, oral waar sy gaan.”

 

 

Vir al die fotos volg die skakel: Marika de Klerk – 19 November 2019

Deel hierdie artikel

Leave a Reply