Boodskappe LUISTER NOU
#JouMenseMyMense saam met SPAR – Oom Sakkie Parsons, 26 Februarie 2020

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Oom Sakkie Parsons, 26 Februarie 2020

Deel hierdie artikel

Oom Sakkie Parsons (72) kan nie baie van sy kinderjare onthou nie. Hy vermoed dis omdat die Here vir ons breine ‘n soort meganisme geïnstalleer het wat sekere dinge “delete” of so diep in die argiewe bêre dat dit nie Sy kinders moet pla nie… Oom Sakkie en sy boeties en sussies is as jong kinders van hulle ouers weggeneem en in pleegsorg geplaas. Die pleegmoeder het haar eie en ook ander kinders gehad, maar hulle werklik baie sleg behandel. As sy boeties bed natgemaak het, het die pleegma die nat lakens in hulle monde gedruk. Op ‘n dag het die welsyn sy broers en susters kom haal, maar hom alleen daar gelos. Hy kon nie na ‘n gewone weeshuis toe gaan nie omdat daar fout was met sy oë. Meeste van die skoolvakansies kon hy nie na een van sy ouers toe gaan nie en is dan uitgeplaas na vreemde mense. Hy was so 30 jaar oud toe hy sy sig heeltemal begin verloor het. Die ergste was die besef dat hy binnekort nie meer sy kinders se gesiggies sou kon sien nie en dit het toe ook so gebeur toe hy blind word. Oom Sakkie het sy vrou, wat Dementia gehad het, tot op die einde versorg en toe voor sy 70ste verjaarsdag besluit om iets anders in sy lewe te begin. Omdat hy vroeër jare tot kort na sy behandeling vir melanoom kanker wat in 1998 geëingdig het, langafstand wedlope gedoen het, het hy besluit om weer te begin hardloop. Hy het egter ‘n gids nodig gehad en toe hy vir Marix by Agape Klub ontmoet het sy aangebied om te probeer as Oom Sakkie bereid was om ‘n kans te neem met haar. Intussen het hulle al twee 10km padwedlope en ‘n half-marathon so saam-saam voltooi. Vir Marix, wat al haar lewe lank hardloop, gaan dit nie oor die tye wat sy hardloop nie, maar eerder die geselskap langs die pad en om haar liefde vir hierdie sport met ander te kan deel. En boonop help dit dat haar en Oom Sakkie se pas presies dieselfde is. Dis Marix wat ons van Oom Sakkie vertel het en sy uitdagings om te oefen omdat hy nie altyd saam met sy hond kan draf nie en die gym naby sy huis se treadmill is meer stukkend as wat dit werk. Ons vriende van 𝑺𝑷𝑨𝑹 𝑵𝒐𝒓𝒕𝒉𝒓𝒂𝒏𝒅 en die SPAR Women’s Challenge deel Oom Sakkie se liefde vir hardloop en het toe vir hom ‘n splinternuwe treadmill gekoop! Hy is vir almal ‘n inspirasie en ook nog lank nie afgetree nie. Danksy ‘n slim rekenaarprogram werk hy nog gemiddeld 10 ure per dag aan sy e-posbediening waar hy mense se vrae uit die Woord antwoord. Sy persoonlike assistant, Elsabé wat in Australie woon, help hom hiermee. “My doel is om mense aan Jesus voor te stel en met die liefdevolle genade van ons Here, dié wie reeds vir Jesus ken te help om ‘n nog hegter liefdesverhouding met Hom te hê.” Daar is soveel hindernisse langs die pad wat selfs vir diegene wat kan sien ‘n uitdaging is, maar hy vertrou sy “begeleier” en vir Marix is dit ‘n spesiale voorreg om dit vir hom te kan doen. “Hy het my weer geleer om die lewe te waardeer en niks vanselfsprekend te aanvaar nie. Ten spyte van sy gestremdheid en die beperkinge wat daarmee saamgaan, is hy positief en vol humor. Hy voeg waarde toe tot ons lewens en gee ons rede tot dankbaarheid vir die wonderlike voorreg om gesond te wees en te kan beweeg na hartelus.”

www.sakkieparsons.co.za

bediening@sakkieparsons.co.za

𝐋𝐮𝐢𝐬𝐭𝐞𝐫 𝐰𝐞𝐞𝐫 𝐡𝐢𝐞𝐫:

 

 

Vir al die fotos volg die skakel: Oom Sakkie Parsons, 26 Februarie 2020

Deel hierdie artikel

Leave a Reply

Close Menu