Thuli (33) se man is in 2010 oorlede toe hy op pad werk toe deur ‘n rubber koeël getref is tydens ‘n oproer op die Molottopad. Haar seun, Nkosnathi (14) is in 2006 gebore met skoliose, voete wat binnekant en afwaarts gedraai is en ‘n gesplete verhemelte. Nkosnathi het gesukkel om te eet en om vloeistowwe te sluk. Hy het ‘n nasale stemtoon ontwikkel en die kroniese oorinfeksies het uiteindelik tot gehoorverlies gelei. Die grootste uitdaging was egter om sy ruggraat te probeer regstel. Gewoonlik sou dit by geboorte in ‘n ordentlike mediese fasiliteit so gou as moontlik reggestel word, maar dit was onbekostigbaar vir hierdie ouers.
Thuli werk in ‘n winkelsentrum in Mamelodi en as enkelma het sy geen ander keuse as om ‘n kamer naby Nkosnathi se skool te huur en dan steeds R750 per maand te betaal vir sy privaatvervoer nie. Hy kan nie met ‘n gewone taxi of bus ry nie en Thuli moet hom elke dag van punt A tot punt B dra.
Die personeel van Kemp en Moolman waar Nkosnathi se ouma, Katrien al die afgelope 13 jaar werk, het die afgelope jaar hard gewerk om die eerste gedeelte van die fondse bymekaar te maak vir Nkosnathi se elektriese rolstoel en toe het Wouter Snyman van Attooh die balans geskenk met ‘n boodskap van waardering vir hierdie jong man wat al soveel uitdagings in sy lewe moes trotseer.
Nkosnathi, wat beteken “God is with us” in Ndebele, is ‘n besonderse kind en ‘n ware inspirasie. Hy het al so baie beleef en tog kies hy om gelukkig te wees en om ‘n betekenisvolle lewe te leef binne die beperkings wat hy elke dag in sy liggaam ervaar en hy is vasbeslote om eendag vir sy ma te kan sorg soos wat sy elke dag vir hom sorg.
#Luister Weer hier:
Vir al die fotos volg die skakel: Nkosnathi se rolstoel
Deel hierdie artikel