Maryka Coetzee is op 13-jarige ouderdom met totale nierversaking in ‘n hospitaal in Johannesburg opgeneem. Sy was die hele jaar in die hospitaal en het die dag voor Kersfees haar eerste nieroorplanting gekry. Op haar 22ste verjaarsdag kry sy haar 2de nieroorplanting. Na haar eerste huwelik geweldadig raak vlug sy met haar dogter, Jhanyka na ‘n plek van veiligheid. Daar loop sy ‘n jarelange vriend, Ronnie weer raak. Ronnie het ook nierprobleme gehad en was in dieselfde hospitaal se kinderafdeling as sy. Ronnie help vir Maryka en haar dogter om weer op hulle voete te kom en help Jhanyka om haar regte pa op te spoor en vrede te maak voor haar pa in ‘n gru trok-ongeluk sterf. Maryka en Ronnie is getroud en hulle seuntjie, Bjorn is in 2006 op 29 weke en ‘n skamele 1.6kg gebore. Sy bloeddruk was van geboorte af gevaarlik hoog en toetse wys dat hy een groot en een klein nier het wat swak is. In 2007 het Ronnie baie siek word. Hy was in en uit die hospitaal met nierversaking en toe later ook hartversaking. In 2010 is hy oorlede. Maar Maryka kon nie gaan lê nie! Sy en haar twee kinders het baie rondgetrek om ‘n dak oor hulle kop te probeer behou. Sy ry steeds elke dag bus om by die werk te kom en sal oorleef op koffie sodat haar kinders net nie honger is nie. Bjorn se een nier is intussen in 2014 verwyder en hy is op die vooraand van ‘n hartoperasie volgende week. Hulle wil die gaatjie toemaak en die ander skade probeer regmaak. 2014 is ook die jaar wat 21-jarige Jhanyka ‘n dubbelde beroerte gehad het. ‘n Pragtige jongmens wat op vyf haar pa en op 11 haar stiefpa verloor het en steeds probeer sy sterk wees vir haar ma en daar wees vir haar broer. Sy hou skool by die Jad Jahwe Leersentrum in Pretoria-Wes waar Bjorn ook skoolgaan en dis waar ons hom gaan verras het met ‘n hospitaaltas gepak met warm pajamas en pantoffels aangesien hy dit al as ‘n koue plek leer ken het. Ons kon ook vir die gesin ‘n SPAR geskenkkaart en R5000 bydrae gee hetsy vir onvoorsiene uitgawes na afloop van Bjorn se hartoperasie of sommer net ‘n bietjie asemskep tussen die konstante mediese rekeninge. Danksy ons vriende van Capital Singers kon ons ook ‘n R5000 bydrae maak vir die Jad Jahwe Sentrum wat beteken “hande van God.” Die eienaar, Louisa Schoonraad het opleiding in traumaberading en kinderkinetika en verder is sy toegerus met liefde, genade en ‘n passie vir kinders wat swaarkry of weens verskillende uitdagings sukkel om in ‘n hoofstroomskool aan te pas. Die trauma en verwerping wat haar eie aangenome kind se ADHD veroorsaak het, het gelei tot die begin van hierdie sentrum waar Louisa en haar span hoop om God se hande te wees.
𝐋𝐮𝐢𝐬𝐭𝐞𝐫 𝐰𝐞𝐞𝐫 𝐡𝐢𝐞𝐫:
Vir al die fotos volg die skakel: Maryka, Jhanyka en Bjorn
Deel hierdie artikel