Sy was die wenner van die Pretoria Skole Idols, top Akademiese presteerder en op die leerlingraad van haar skool toe Anriëtte van der Riet se hele lewe in Februarie 2013 verander het… Sy het by die skool inmekaar gesak na sy die gevoel in haar bene verloor en hartkrampe gekry het. Sy is met Marfansindroom en ‘n lekkende hartklep gediagnoseer. Marfansindroom tas die bindweefsel en organe in die liggaam aan en veroorsaak ander gesondheidsprobleme wat met tyd die een na die ander na vore gekom het van sig- en longprobleme tot lae bloeddruk, fibromialgie en slaap apnee en elke simptoom wat daarmee gepaardgaan. Sy het kroniese pyn in haar skelet, spiere en vel. Haar hande word erg beïnvloed en die probleme in haar heupe maak dit nou ook al hoe moeiliker om te loop. In 2015 is Anriëtte se ma, Mariëtte medies ongeskik verklaar weens sigprobleme. Sy kan net buitelyne sien. Die gesin het ‘n mediesefonds as deel van Mariëtte se voordele, maar dis slegs ‘n hospitaalplan. Mariëtte is ook in 2018 met fase 2 (en later fase 4) borskanker gediagnoseer. Sy is onlangs weer daarvoor opgeneem nadat dit aan die lig gekom het dat daar aktiewe kankerselle in een van haar bene was. Anriëtte se Pa, Anton wat ‘n huweliksbevestiger is, het in dieselfde jaar ‘n noodoperasie vir sy rug ondergaan en sukkel ook met sy gesondheid. Ten spyte van haar konstante pyn en behandeling, het Anriëtte al verskillende projekte aangepak om fondse te help insamel vir haar familie – meeste van hierdie projekte is iewers vanuit ‘n hospitaalbed gereel. Sy studeer tans teologie en werk ook om self haar studies te help betaal. Anriëtte se siekte het vinniger vererger as wat enige iemand kon voorspel en haar lewenskwaliteit het vinnig afgeneem. Daar is nie veel kenners nie, maar hulle het ‘n dokter gekry wat saam met neurosjirurge, neuroloë, fisioterapeute, biokinetici, narkotiseers, kardioloë, en ander spesialiste werk om die beste behandeling (of ten minste net verligting) vir die pasiënt te kan gee. Dis ongelukkig ‘n duur proses, maar hulle gesin is vol hoop dat dit Anriëtte sal kan help. Ons span het vir Anriëtte by die hospitaal gaan verras waar sy gewag het vir haar eerste afspraak by die dokter. Danksy ons vriende van 𝐒𝐏𝐀𝐑 kon ons vir hulle gesin ‘n geskenkkaart en vir Anriëtte ‘n gebedskussing van Faith Durie gee. Sandra Viljoen van Power2Health borg vir Anriëtte 10 – 20 Hyberbaric Oxygen Therapy sessies ter waarde van tussen R5500 en R11 000 en Riëtte Oosthuizen Prokureurs het ‘n R10 000 bydrae gemaak vir Anriëtte se mediese behandeling. Baie, baie dankie vir hierdie bydraes en geskenke! Volg gerus Anriëtte se Facebookblad https://www.facebook.com/AnriettesJourney/ om te hoor hoe klink dit wanneer iemand te midde van en ten spyte kan sê: “𝑰’𝒎 𝒈𝒐𝒏𝒏𝒂 𝒔𝒊𝒏𝒈, 𝒊𝒏 𝒕𝒉𝒆 𝒎𝒊𝒅𝒅𝒍𝒆 𝒐𝒇 𝒕𝒉𝒆 𝒔𝒕𝒐𝒓𝒎…”
𝐋𝐮𝐢𝐬𝐭𝐞𝐫 𝐰𝐞𝐞𝐫 𝐡𝐢𝐞𝐫:
Vir al die fotos volg die skakel: Anriëtte van der Riet
Deel hierdie artikel