PEN is ‘n geloofsgebaseerde niewinsgewende gemeenskaporganisasie wat sedert 1992 jong voorskoolse kinders, die jeug en weerlose volwassenes van die middestad van Pretoria dien
Die visie is om in verhouding en in vennootskap met iemand in nood ‘n permanente verandering in hulle lewe te laat vlam vat, om mense te help besef wie die Here hulle gemaak het om te wees sodat hulle met waardigheid, geborgenheid en die versorging van ‘n omgee-gemeenskap uit die kloue en siklus van armoede kan uitbreek. PEN droom van gemeenskappe wat gesond en heel word tot daar waar hulle as organisasie nie eers meer nodig sal wees nie, want ‘n gemeenskap het geleer om na mekaar om te sien.
PEN is ook van die begin af deel van GROOTfm90.5 se #BlikkiesenBaadjies Winterprojek en na ons self al soveel keer saam met hulle die strate van Sunnyside gestap het om onder die vel van die nood in ons stad te kom, kan ons getuig dat hierdie visie nie net woorde is nie. En dat terme soos “koud”, “nood”, “honger” en “swaarkry” ‘n gesig en ook ‘n storie gekry het wat regtig die balk uit ons eie oog kom haal het…
PEN leef en werk naby sy mense en leer ons weereens in hierdie tyd dat liefde nie kan vashak by beleide of strategie nie, maar bereid moet wees om aan te pas as ons ‘n gemeenskaplike vyand moet veg, want soos die Hoof Uitvoerende Beampte van PEN, Dr. Marinda van Niekerk en haar span sê: “Ons is nie hier vir onsself nie, maar ter wille van ons gemeenskap.”
Baie dankie vir SPAR se geskenkkaart en as deel van One SA se #40actsofkindness kon ons vir PEN warmwatersakke ter waarde van R9000 skenk!
Vir meer besonderhede, besoek gerus PEN se webblad: www.pen.org.za
En dan! GROOTfm 90.5 saam met We Can is besig met ‘n insameling vir PEN hierdie week en jy kan ons help! Borg ‘n kospak wat bestaan uit 6kg groente en 1kg hoender- en groente sop vir slegs R63. Al die besonderhede is op die webblad www.wecansa.co.za.
𝙇𝙪𝙞𝙨𝙩𝙚𝙧 𝙬𝙚𝙚𝙧 𝙝𝙞𝙚𝙧:
Vir al die fotos volg die skakel: #JouMenseMyMense saam met SPAR – PEN, 10 Junie 2020
Deel hierdie artikel