#JouMenseMyMense saam met SPAR – Beenaf, maar nie oor die lewe nie…
Ons het ‘n epos ontvang van Tresa Peo, waar sy om hulp vra vir haar vriendin Anne wie se been in 2020 geamputeer is. Tresa het laatweet dat sy baie met haar krukke en loopraam sukkel. Ons het vir Tannie Anne en haar man, Pieter te gaan kuier.
Tannie Anne en Oom Pieter Botha is al 53 jaar getroud. Die geheime woorde vir hierdie huwelik? Tannie Anne sê; ‘Dankie, Here’, en Oom Pieter; ‘Dankie’ en ‘ja’! Ons het so lekker by hulle dogter se huis gekuier, waar hulle tans woon. Tannie Anne en Oom Pieter het hulle seun 20 jaar terug aan die dood verloor, maar is vandag dankbaar vir ‘n dogter, ‘n kleindogter, en binnekort ‘n agter-kleindogter.
Vier jaar gelede het Tannie Anne en Oom Pieter nog ‘n terugslag beleef met ‘n hek-ongeluk waartydens Tannie Anne haar knie vergrys het, waarna sy moes gaan vir ‘n knie-vervanging. Die herstelproses het baie goed gegaan, maar na die operasie was daar ‘n verskil in die lengte van haar bene, wat veroorsaak het dat sy haar balans telkemale kere verloor en geval het. Die gereelde val het ‘n klein skeur in haar vervangde knie veroorsaak, wat absesse begin vorm het. Nadat hulle die absesse aanhou dreineer het, is Tannie Anne met geen ander keuse gelaat as ‘n amputasie bokant haar knie.
Nico Heyns het in Januarie 2020 aan GROOTfm 90.5 die waarde van vier rolstoele geskenk. Vandag kon ons Tannie Anne met die hulp van hierdie skenking, Chris Booysen en Wheelchairs on the Run, Seën met ‘n splinternuwe rolstoel. Te danke aan ons familie by SPAR, kon ons ook vir Tannie Anne en Oom Pieter met ‘n geskenkbewys bederf.
Met ‘n oorweldigende dankbaarheid het Tannie Anne die Here se lof besing. Sy goedheid en guns bly onveranderd, ondanks omstandighede wat so onvoorspelbaar en wispelturig is. Haar geloof en gesindheid is inspirerend. Dankie Tannie Anne en Oom Pieter, dat julle in soveel opsigte vir ons ‘n voorbeeld en inspirasie is. Mag God julle aanhou oorweldig met hierdie selfde goedheid en guns. Dié kuier was vir ons nóg meer kosbaar en betekenisvol as vir julle!
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: