Juan Nel het voorheen as ‘n kelner by ‘n restaurant gewerk wat intussen as gevolg van die impak van lockdown hulle deure moes sluit. Al die personeel het hulle werk verloor. As gevolg van sy gesondheid het hy nie regtig ander werkservaring nie, maar het dadelik ‘n plan gemaak en besluit om te begin vetkoeke bak. Sy ouma, wat self koekies en beskuit bak om haar inkomste aan te vul, het vir Juan ‘n braaipan gegee en sy eerste bestanddele gekoop en binne 2 weke het hy genoeg geld verdien om ‘n gedeelte van hulle huur te betaal en om ‘n tweedehandse vrieskassie te koop.
Juan se ma het aanvanklik gehelp met die aflewering van die vetkoeke. Sy het egter onlangs, na sy self meer as ‘n jaar lank werkloos was, ‘n geleentheid gekry om mense se huise te help skoonmaak. Nou is daar ‘n oom van Roseville wat die vetkoeke vir hom aflewer in die Moot, Montana, Capital Park, Sinoville, Mountain View en Waverley en Juan hoop dat dit die oom ook op ‘n manier help, want dis sy hart! Juan het ook ‘n seun wat laas jaar nog op skool was en sukkel om werk te kry, in diens geneem.
Ons het by Juan en sy seuntjie Le Roux gaan kuier waar hulle woon – ‘n enkel garage wat in n tuinwoonstelletjie omskep is en in die hoek – ‘n blad met die braaipan waar daar vetkoeke gebak word met ‘n motto van: “Begin klein, eindig groot.”
‘n Ma en dogter het laas week by GROOTfm 90.5 ingestap met ‘n skenking van kruideniersware wat ons vir hierdie gesin kon gee saam met ‘n geskenkkaart van SPAR as ‘n belegging in Juan se besigheid. Ma Amanda se briefie het gesê: “Ek is maar net ‘n ma wat so graag my seun wil help om sy droom van ‘n vetkoek-besigheid waar te maak.” ‘n Droom wat dalk klein begin het, maar met jou hulp groot kan eindig…
Vir jou vars vetkoek kontak gerus vir Juan Nel by 072 573 6820.
𝙇𝙪𝙞𝙨𝙩𝙚𝙧 𝙬𝙚𝙚𝙧 𝙝𝙞𝙚𝙧:
Vir al die fotos volg die skakel: #JouMenseMyMense saam met SPAR – Juan Nel, 01 Julie 2020
Deel hierdie artikel