#JouMenseMyMense saam met SPAR – ‘n “Attitude of Gratitude”
Dis hoe Lalie Reyneke elke oggend wakkerword…
Lalie Reyneke is ‘n buitengewone mens. Ondanks groot trauma wat sy die afgelope jaar beleef het, en nog steeds doen, is sy ‘n sprankel, ‘n inspirasie en ‘n onblusbare vlam! Sy sê die volgende: Ek is meestal positief, maar glo my… ek huil… baie. Saans as niemand my hoor nie, want ek ontstel hul net. Dis meestal van pyn.
Na die trane wat my siel skoon was sit ek by Vader se voete, dis waar ek berusting kry. Daai trane genees ook baie ánder dieperliggende emosies waarvan mens nie weet nie.
Soooo… Ek is nie altyd so braaf nie! But God…..Na aanleiding van ‘n hulpkreet gerig deur ‘n baie goeie vriendin, Petra Nortje, het GROOTfm 90.5 gaan kuier…
Lalie het verlede jaar in ‘n hek-paal vasgeloop, waarna sy na haar been gekyk het, en moes aanskou hoe haar been vir haar ‘gaap’ as gevolg van ‘n groot sny wat sy opgedoen het as gevolg van ‘n geroeste paal wat uit die hek uitgesteek het. Haar vriende het haar in die huis ingedra, en sy haar geheue verloor. Vrydagoggend is sy na ‘n dokter toe vir steke, anti-biotika en ‘n klem-in-die-kaak inspuiting. Daardie aand het sy nie geslaap nie, en die volgende dag is sy terug na die dokter toe vir nog ‘n klem-in-die-kaak inspuiting. Met tuiskoms het sy aan die slaap geraak, en haar vriende het haar gelos, sodat sy slaap. Dis hier waar sy in ‘n koma beland het. Haar been het intussen pers geword en blase gevorm. Haar vriende het haar na die hospitaal toe gejaag waar hulle haar op ‘n ventilator gesit het. Dokters het vir haar suster gesê hulle moet haar groet. Lalie kan niks onthou nie. Die dokters het met haar suster meegedeel dat sy ‘n vleisetende bakterie opgetel het en dat hulle dadelik haar been moet amputeer.
Lalie het in Januarie vanjaar begin spaar vir prostese. Sy sê sy is iemand wat nie kan stilsit nie, en sonder ‘n been, is die vooruitsig van beweging waaraan sy gewoond is, ondraaglik. Min wetend, dat die fondse wat sy so proaktief bymekaarmaak sou gebruik word vir nog ses amputasies…Sy noem haar regterbeen, wat nou al ver bo haar knie afgesit is, ‘Dolfyntjie’. Lalie toon nog steeds, ses operasies later, ‘n ongeëwenaarde lewenslus. Sy sien dit raak wat sy het, nie dit wat sy nie het nie. Sy noem dat ons haar moet dophou, want eendag gaan sy deelneem aan die paralimpiese spele. Sy weet nog nie in wat nie, maar deelneem gaan sy deelneem!
Sy sê sy was baie naief om te dink sy sou al reeds haar prostetiese been gehad het, en moes diep in die fondse wat hiervoor ingesamel is delf om te betaal vir die doktersafsprake wat sou volg. Ses operasies later, was daar vasgestel dat sy nie een nie, maar ses neurome het wat herstel moet word voor enige planne oor prostese gemaak kan word. Die kostes verbonde aan hierdie operasie het ook nie ‘n spesifieke bedrag nie, en is sy onderhewig aan dit wat die dokters bevind sodra sy op die teater-tafel lê.
GROOTfm 90.5 kon vir Lalie met behulp van SPAR ‘n R1 500-geskenkbewys gee. Te danke aan donasies van ‘n GEEmeenskap en Ecomed Medical na ons omgee-rekening, kon ons ‘n bydrae lewer ten bate van Lalie se teater-koste vir haar gewensde operasie.
Liewe Lalie, jou lewensvreugde is aansteeklik. Jou geesdrif vlambaar. Jy sal, in Jesus Naam, weer op jou voete wees, sommer gou! Dankie dat jy ons inspireer en aanmoedig om nie ons liggame vanselfsprekend te aanvaar nie. Om dit te sien wat ons het, en nie dit te sien wat ons nie het nie. Dat ons ook, watookal ons uitdagings, moet wakkerword met ‘n ‘attitude of gratitude’! Ons eer jou, en ons leer van jou! ‘You are doing places!’ En ons kan nie wag om te sien waarheen oral nie. Mag Hy jou aanhou dra en toerus met Sy bonatuurlike krag. Sy Gees lewe binne jou! En die wêreld kan dit sien!
*Ons het ook baie goeie nuus ontvang dat Lalie hierdie Saterdag, 19 November 2022, vir haar operasie gaan.
Lalie moes delf in die fondse wat sy vir haar prostese wou gebruik vir die onverwagse operasies wat sy moes ondergaan. Alhoewel sy Saterdag, 19 November gaan vir die operasie wat haar pyn gaan verlig, begin haar proses na prostese nou eers. As jy ‘n bydrae wil lewer ten bate van haar prostese, KLIK HIER: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/lalie-reynecke
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: