#JouMenseMyMense saam met SPAR – As die musiek begin speel…
…hoor en beleef Portia niks anders nie. Haar soms uitdagende omstandighede word stil.
Mignonne de Jager, van Dox Deo Gemeente, Parkview, het ‘n versoek aan ons gerig namens Rhythm of Hope, ‘n nie-winsgewende organisasie wat talentvolle dansers befonds – om ten einde dié jongmense uit hulle huidige omstandighede te verwyder en nuwe ambisie en hoop te gee vir ‘n toekoms en platform waarop en waarin hulle hul danspotensiaal kan ontwikkel en optimaliseer. Portia, tans woonagtig in Plastic View, is een van hierdie talentvolle dogters.
Portia het ‘n oudisie by Pro Arte, ‘n skool in die ooste van Pretoria wat spesialiseer en fokus op uitvoerende sowel as skilderkuns, geslaag. Dis buitengewoon vir Pro Arte Alphen Park om iemand vir die spesialiteitsarea van dans in hul Graad 10 jaar te aanvaar – ‘n bewys van Portia se talent. Sy het ook ‘n beurs by ‘n ander skool gekry, maar die deur het ongelukkig aan die begin van die skooljaar toegemaak. Pro Arte Alphen Park was so gaaf om haar op grond van die oudisie van 2021 steeds toe te laat. Portia het die nuwe skooljaar met die eerste intrapslag omhels, en volgens Mignonne, is sy reeds “ingeburger en dol gelukkig”. Mignonne sê verder: “Ons stap reeds jare saam met hierdie meisies ‘n pad, en hierdie dogter is regtig spesiaal, met soveel talent en vooruitsig. Sy het ongelukkig net nie die geleenthede nie. Ons kon R10 000 bymekaar kry, om haar eerste kwartaal se onkostes te dek, sodat sy kan begin.”
GROOTfm 90.5 het die voorreg gehad om haar tydens een pouse te gaan verras met ‘n kuier! Saam met die liefdevolle span van Rhythm of Hope, Thalita van Zyl en Mignonne de Jager, Pro Arte Skakelbeampte en Bemarkingsbestuurder, Me. Rene Abrahams, en hulle geliefkoosde Departementshoof van die Dansakademie, Mnr Nigel Hannah!
Ons het geluister na ‘n baie wel-belese en volwasse Graad 10 dogter, wat oorloop van en met vooruitsig en drome, onder andere om eendag die Mej Wêreld kroon te dra! Hoe bly sy positief? ‘Laughter’, sê sy. ‘I love laughter’!
GROOTfm 90.5 kon met behulp van SPAR, vir haar en haar gesin met ‘n R1 500-geskenkbewys bederf – vir skoolbenodigdhede en kos vir haar gesin. Die span van We Buy Cars het gesorg vir haar skoolfonds vir die res van 2022.
Liewe Portia, ons is saam met jou opgewonde oor dit wat vir jou voorlê. Op ‘n verhoog terwyl jy dans! Jou kroon ontvang as Mej Wêreld! Op die verhoog van die lewe, waar jy besig is om te skitter en floreer! Jy is ‘n besonderse dogter, met ‘n aansteeklike lewensuitkyk. Weet dit, Sy planne vir jou is onstuitbaar. En raai wat, jy dra reeds die blinksste kroon as deel van Sy onwankelbare Koninkryk!
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: