Op die erf waar hierdie gesin bly, is daar vyf karavane, ‘n wendyhuis en een bad en stort wat almal moet deel. Die karavaan is stukkend, dit reën in en muf. Alg en iets wat soos boomwortels lyk groei teen die badkamer en stort se muur.
Madelyn het voorheen as barlady gewerk, maar toe verloor sy haar werk as gevolg van haar gesondheid. Die gesin het alles verloor. Hulle bly die afgelope jaar in hierdie karavaan met die stuk tent aan. Net voor lockdown het sy weer ‘n werk as barlady gekry, maar met die inperking het sy weer haar werk verloor en so het hulle agter geraak met die karavaan se huur wat R100 per dag is. Haar verloofde, Danie is ‘n karwag. Hy kon eers in die middel van vlak 4 weer begin werk, maar net 3 dae per week en teen tussen R50 en R100 per dag. Hulle sukkel om te oorleef, slaap sleg op die karavaan matras en veral die dogtertjie (11) kla gedurig dat sy seer het.
Die desperate e-pos sê: “Ek huil letterlik elke dag en bid vir beter plek om in te bly wat skoon, netjies, veilig en higiënies is, met water om skoon te maak en hande te was. Ons is arm, maar ons wil net ordentlik leef. Kan julle ons asseblief help?”
Ons JouMenseMyMense projek het ons geleer om in ongemaklike plekke in te stap. Om die weggesteekte swaarkry met deernis te deel sodat ons met sagter oë na mense om ons sal kyk… Om langs ‘n ma in haar tent te sit, haar droom vir iets “fancy” te hoor en saam met dit die hartseer oor hulle haglike omstandighede wat sy ook nie gewoond is nie… Om met klein gebare soos ‘n paar sakkies kruideniersware te wys dat ons omgee al het ons nog nie die oplossing of antwoord waarvoor hierdie gesin so hoop nie.
Oor die afgelope 7 jaar was ons stories nog nooit perfek afgehandelde projekte nie. Inteendeel, dis elke keer ‘n uitnodiging om deel te word en elke keer sien ons daardie stukkie ekstra of nog ‘n bietjie by met seker die grootste vrug op ons werk die terugvoer van: “Dit wat ek gesien of geleer het, het my geïnspireer om ook hier in my straat of woonbuurt ‘n verskil te maak wat iemand of iets so bietjie beter los as wat ek dit gekry het….” Vandag wil ons vir jou dankie sê dat jy saam met ons hierdie JouMenseMyMense pad stap…
𝙇𝙪𝙞𝙨𝙩𝙚𝙧 𝙬𝙚𝙚𝙧 𝙝𝙞𝙚𝙧:
Vir al die fotos volg die skakel: #JouMenseMyMense saam SPAR – Gesin in karavaan en tent 4 Aug 2020
Deel hierdie artikel