#JouMenseMyMense saam met SPAR – Waar kinders net kan wees!
Na afloop van Vrouedag en -maand-vierings het die vrywillige veldwagters by Dinokeng besluit om dié rondte ‘n groep skoolverlater-dogters van die Jakaranda en Louis Botha Kinderhuise met ‘n naweek-wegbreek te bederf.
Jakaranda en Louis Botha Kinderhuise het tans 167 dogters in totaal wat in hul sorg geplaas is deur die kinderhof – as gevolg van verwaarlosing, seksuele en fisiese mishandeling.
Volgens CEO, Charlene Grobler is hierdie vir hulle ‘n naweek waartydens hulle net kan ‘wees’!
Hierdie dogters, en al die kinders wat die kinderhuise hul tuiste noem, is lankal nie meer slagoffers of ‘wees’ nie. Hulle het ‘n huis. ‘n Familie! ‘n Heenkome en ‘n vooruitsig. Hulle is oorwinnaars van hul omstandighede, en streef met dryf en wil na ‘n toekoms en lewe wat aansienlik ‘makliker’ is as die vertrekpunt waarmee hulle in hierdie wêreld in verwelkom is.
Ons gesels met Debbie Smuts, ‘n ‘voluntary ranger’ van Dinokeng oor die program wat die span met soveel deernis vir die dogters beplan het. Wildritte, ‘n kampvuur-konsert en ‘n ‘high tea’ het hiervan deelgevorm, en, soos Debbie gesê het, ‘dit was ons beurt om hierdie dogters te dien en bedien’.
Die dogters kon terugsit en luister na aanbiedings en praatjies oor die natuur, wildlewe, gawes van die Gees, en selfbeeld. Janine Strydom van Techtrix Tactical Solutions het saam met haar vennoot, Angus, die dogters wysgemaak oor selfverdediging, en met raad en wenke toegerus oor hoe om hulself in ‘n uitdagende en bedreigende situasie te bemagtig. Nie net het hulle met die dogters gesels oor hoe om hulleself te beskerm nie, maar ook vir hulle ‘n geleentheid gebied om ‘n loopbaan in sekuriteit te oorweeg en by hulle instansie aan te sluit. Die dogters, wat net tot op ‘n 21-jarige ouderdom deur die sisteem beskerm word, word dikwels oorgelaat aan hul eie genade, met ‘n ‘self sien kom klaar’-vooruitsig wat op hulle wag. Techtrix Tactical Solutions het met meer opgedaag as ‘n selfverdedigingsklas. Hulle kon vir die dogters bekendstel aan ‘n nuwe vooruitsig. Een wat hulle op ‘n volhoubare wyse kan bemagtig.
Ons is dankbaar vir elke rolspeler wat hierdie naweek moontlik gemaak het. Aan elke borg en vir elke bydrae. Aan SPAR wat gesorg het vir kruideniersware wat ‘n heerlike spyskaart kon lewe gee. Aan die span vrywillige-veldwagters van Dinokeng wat altyd in oorvloed belê in hierdie kinders se besoek. Hulle tyd, liefde en toewyding teenoor verskilmaak-geleenthede soos hierdie.
Ons raak opgewonde oor kinders wat huis toe gaan met ‘n magdom herinneringe en ‘n vrede en ‘n rustigheid oor dit wat vir hulle voorlê. Oor dit wat hulle Vader vir hulle beplan. Mag dit wat hulle die naweek ervaar het die fondasie wees van die getuienis wat iemand smag om te hoor. Van hoe Sy planne vir jou en my onstuitbaar is, al is daar huidige omstandighede wat hierdie vooruitsig verdof, en onnodige geraas wat ons weerhou om Sy stem en fluister te hoor. Mag ons Hom sien, altyd, in alles wat goed en mooi is. In alles wat Ewigheidswaarde dra. In die geluid van ‘n kind wat lag, al het hulle nie ‘n rede nie. Mag ons Hom sien in die aangesig van ‘n kind wat net kan vergeet van alles, en net kan wees!
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: