You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Niks is onmoontlik nie!

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Niks is onmoontlik nie!

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Niks is onmoontlik nie!

By die ingang van Ettiene Ludick se kamer hang daar ‘n bordjie wat sê: ‘Niks is onmoontlik nie’. Ons het die voorreg gehad om dit eerstehands te ervaar. Dryf en deursettingsvermoë is ingeprogrammeer in Ettiene se DNS, en daarom, is niks inderdaad vir hom onmoontlik nie.

Ettiene Ludick is ‘n baie gemotiveerde en sagmoedige 20-jarige. Hy is op 28 weke gebore, en na ‘n suurstof-tekort en verskeie operasies loop hy vandag met krukke. Ettiene moes ook op skool aanvullende ondersteuning ontvang met die skryf van sy eksamens, aangesien sy brein vinniger as sy hande beweeg. Danksy harde werk, waagmoed en deursettingsvermoë het hy verlede jaar matriek geslaag en met behulp van ‘n familielid ‘n borg gekry om by WW.IT-IQ Training and Solutions, ‘game development’ en IT te studeer. ‘Gaming’ en IT is deel van Ettiene se DNS – en het hy al op ‘n 4-jarige ouderdom ‘n passie hiervoor ontwikkel. Ettiene maak tans gebruik van skootrekenaar wat hy by iemand leen vir sy eerste jaar, maar benodig ‘n spesiale rekenaar om sy tweede jaar te voltooi.

Sy ma, Ansie, vertel ons hoe Ettiene se pappa baie siek geword het met diabetes twee jaar gelede waartydens hy ook sy besigheid verloor het. Pa Jan is tans nie fisies in staat om te werk nie. Hulle gesin het toe by iemand anders ingetrek, en Ansie het ‘n werk gekry om die huur te kan betaal en kos op die tafel te sit. Hulle het geen ekstra finansies om vir Ettiene se tersiêre opleiding te kan betaal nie.

GROOTfm 90.5 kon met behulp van ‘n donasie van Riëtte Oosthuizen Prokureurs vir hierdie spesiale seun sy spesiale rekenaar koop, wat deur ons eie tegniese guru, Chris Minnaar, opgebou en aanmekaar gesit is. Ons kon hulle ook Seën met ‘n R1 000-geskenkbewys van SPAR. ‘n BAIE groot dankie aan Riëtte Oosthuizen, en Chris Minnaar van GROOTfm 90.5 vir hulle bydraes om hierdie geskenk moontlik te maak.

Liewe Ettiene, baie sterkte met jou verdere studies! ‘n Meer vreugdevolle, dankbare en blymoedige hart soos joune het ons lanklaas gesien! Veral toe jy jou geskenk oopmaak. Dankie dat jy ons laat glimlag het, en ons saam met jou opgewonde gemaak het oor dit wat die Here vir jou beplan! Dankie Mamma Ansie en Pa Jan dat julle ons van Ettiene vertel het. Ons is so dankbaar om deel van jou storie te wees, Ettiene! Ons weet hierdie storie, jou storie, gaan nog baie mense inspireer. Dit doen reeds!

Fotos: Jislaai-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply