#JouMenseMyMense saam met SPAR – Nie wie jy is nie, maar aan Wie jy behoort
Carla is ‘n enkelmamma van twee pragtige kinders – 4 en 9 onderskeidelik. Sy voel tans soos ‘n mislukking en vernedering en het ons met ‘n hulpkreet genader omdat sy so bang is haar dogter se opvoeding word benadeel as gevolg van agterstallige skoolfonds. Sy probeer alles in haar vermoë om bo uit te kan kom saam met haar ‘twee lyfies’, soos sy na hulle verwys. ‘Dis bitter moeilik, maar ons is wel dankbaar vir so baie meer’, sê sy.
Voor ons sit ‘n pragtige vrou. Jy kan sien sy is deur baie, en, op breekpunt. Bang om haar identiteit bekend te maak, ‘oor wat mense gaan dink’, sluk sy haar trots en stuur vir ons ‘n epos, alles ter wille van haar kinders. Carla glo baie dinge oor haar lewe. Tans, glo sy meer leuens as waarheid. Jy kan haar nie blameer nie, want sy is al keer op keer verwerp en teleurgestel.
Met die mooiste groen oë kyk sy in ons s’n, desperaat vir waarheid, verligting en bevestiging dat sy ‘n goeie mamma en mens is. Dat voorspoed en guns en Seën ook vir haar beskore is. Sy is dankbaar vir ‘n werk, maar haar klein salaris dek net-net haar en haar kinders se maandelikse uitgawes. Dit sluit die nasorg-fooie in – oor sy voldag werk. Sy probeer baie hard proaktief optree, en soek verwoed na ‘n werk met ‘n groter salaris. Ook ‘n kleiner, meer bekostigbare blyplek. ‘Al is dit ‘n een-slaapkamer woonstel vir hulle drie’tjies’, sê sy.
GROOTfm 90.5 kon met behulp van donasies van ‘n GEEmeenskap in ons omgeerekening, Carla se dogter se agterstallige skoolfonds betaal – met bietjie krediet. Sy het na die kuier vir ons geskryf en gesê hoe dankbaar sy is. ‘Julle het my soveel moed ingepraat en ek het opnuut besef dat ek nie meer net teen al die negatiwiteite moet vaskyk nie. Ek kyk al my ‘blessings’ mis. Toe julle by my wegry het ek sonder ophou gebid en gehuil. My hart het vir ‘n oomblik weer heel gevoel. Vol hoop gevoel. Hierdie is so groot las van my skouers af! Dit voel onwerklik en soos ‘n droom! My hart loop oor van dankbaarheid.’
Ons moes vir haar gaan kuier. Al was dit net om haar te herinner wie sy is in Christus. Johan Smith het die volgende in ‘n inspirasie-boodskap gesê, en hier, is dit so gepas. Jou identiteit lê nie in dit wat jy verkeerd gedoen het in die verlede nie, maar in dit wat Jesus reg gedoen het. Die lewe gaan nie net oor wie jy is nie, maar aan wie jy behoort. Liewe Carla, glo hierdie oor jou lewe!
Fotos: Jislaai-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: