You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Tyd om teëspoed te verpand

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Tyd om teëspoed te verpand

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Tyd om teëspoed te verpand

Christina Loots het al in 2021 vir ons ‘n epos gestuur. ‘n Epos gevul met moedeloosheid soos sy teen muur op muur vasloop. As enkelmamma van twee pragtige dogters, en ‘n dogter wat sy in haar huis ingeneem het, probeer sy alles rek – die skamele nou-en-dan-geldjie wat sy inkry, ook haar geduld, hoop en uithouvermoë. Met haar soeke na die lig aan die einde van die donker, lang tonnel, het ons vir haar gaan kuier…

Dit gaan al ‘n wyle swaar met Christina, en haar nou, drie dogters. Haar oudste is in matriek, en Ma Christina is nou reeds bekommerd oor wat sy gaan doen wanneer dit Matriekafskeid-tyd is…(wat eers in Oktober-maand is…) Haar tweede oudste noem sy ‘Pietie’. Sy was prematuur gebore, en die dokter noem haar toe ‘Pietie Muis’. Van jongs af, is haar noemnaam toe Pietie! Haar derde dogter is uit haar eie huis gejaag, en, so min soos wat Christina het om te bied, neem sy haar in.

Christina is geskei en moet self sien kom klaar. Hulle huur is agterstallig, daar is nie kos in die huis of klere om aan te trek nie. Christina se grootste wens is om ‘n normale lewe te lei, en ‘n geleentheid om sonder bekommernisse wakker te word. Sy, wat vir haar dogters enigiets sal doen, het al verskeie maniere probeer vind om uit hierdie gat te kom – mense gehelp met lisensie-aansoeke, wat haar nie betaal het nie. Sy het omtrent al hulle meubels en huisgereedskap verpant, huise skoongemaak en ‘n inkomste as ‘n karwag verdien. Christina en haar dogters ontvang elke Vrydag ‘n kospakkie van die skool, en is die laaste ete wat hulle geniet het ‘n snytjie brood met sous. Toe ons hulle vra waarvoor hulle lus is, toe sê Christina met oorgawe en oortuiging, ‘pizza’!

Christina het nog teëspoed ervaar met haar sussie, wat ‘n steunpilaar vir haar en haar dogters was, se dood, einde verlede jaar. Haar oudste dogter sukkel ook vreeslik met haar tande, en ervaar tans ook kroniese pyn.

Christina glo die Here wil hulle hierdeur herinner dat hulle eers die Koninkryk van God moet soek, en dan sal hulle ontvang wat hulle hart begeer. Dat hulle eers moet vra, voor Hy sal gee. Dat Hy hulle toegerus het vir hierdie lewe wat hulle tans leef, al is dit nie die lewe wat Hy vir hulle wil hê nie. “Hulle is vissies wat moet leer swem”, sê sy.

Dr Seymore Jonker van Mobile Dental Clinic het vir ons ‘n kwotasie gestuur vir die werk aan haar oudste dogter se tande, en GROOTfm 90.5 kan dit vir hulle betaal. Ons kon ook vir hulle ‘n geskenkbewys van SPAR neem ter waarde van R3 000. Met behulp van nog donasies kon ons vir hulle ‘n R2 000 elektrisiteit-geskenkbewys bring, en, hulle agterstallige huur betaal, saam met twee maande se huur vooruit. Ons GROOT vriend, Hannon, gaan ook help met haar oudste dogter se matriekafskeid!

Ma Christina kon vir ‘n oomblik asemhaal. Sy was so dankbaar vir ons kuier, en die vooruitsig van pizza, krag, skuldvrye huur en ‘n oplossing vir haar oudste dogter se mondtoestand, en matriekafskeid!  

Sy is emosieloos gelaat soos sy haar daaglikse soeke na oplossings en planne-maak wat haar gedagtes en emosies oorheers, skielik eenkant kon skuif. Sy is ‘n baie sterk vrou, en ons kon sien haar woorde is min soos sy nie eintlik weet hoe om haar dankbaarheid te betuig nie. Dis nie van in ‘n hoek sit nie. Daar is planne om te maak. Kos en krag om te koop – terwyl die gepiep van die krag wat leegloop in die agtergrond van ons gesprekke weergalm. ‘n Geluid waaraan hulle al so gewoond is. Liewe Christina, en jou drie dogters…Dis tyd om hierdie teëspoed te verpant. Te verpant vir ‘n getuienis en oorwinnigsverhaal! Te verpant vir ‘n nuwe hoofstuk geskryf deur Sy liefdevolle, beskermende hand! ‘n Boek wat gelukkig sal eindig, met die gewaarwording van Sy beloftes! Dis tyd om hierdie teëspoed te verpant vir voorspoed!

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply