You are currently viewing Wat doen jy met jou asem?

Wat doen jy met jou asem?

Deel hierdie artikel

Wat doen jy met jou asem?

Dit was die oorhoofse boodskap die oggend van die 18de Julie toe ‘n span van GROOTfm 90.5 en MitMak-motors die tema vir vanjaar se #MadibaDag – ‘doen wat jy kan,, met wat jy het, waarookal jy is’ – gevier en eerbiedig het.

Jy hoef nie ‘n hospitaal te bou, miljoene rande in die bank te hê of met ‘n hoë titel beklee te wees nie. Al wat jy nodig het om ‘n verskil te maak, is die geleentheid. En, hoe kry jy die geleentheid? Jy skep dit!

Dis wat Tebogo Maredi doen in die gemeenskap van Soshanguve.

Tebogo Maredi is ‘n 32-jarige man wat sy werk as operasionele bestuurder verloor het as gevolg van afleggings en toe besluit het om ‘n verskil in die gemeenskap van Soshanguve te maak. Hy het begin om kinders op te voed oor hoe om diere te behandel – met liefde, respek en deernis. Met inisiatiewe soos die ‘loop-die-hond-uitdaging’ het hy hulle geleer dat ‘n hond soveel meer kan wees as ‘n troeteldier –  ‘n metgesel, ‘n lewenslange vriend, en iemand met wie hulle kan praat wanneer omstandighede by die huis moeilik raak.

Soos Tebogo hierdie reis saam met die kinders begin het en hulle geleer het om diere lief te hê, het hy besef dat deur hulle hierdie liefde te leer, dit ook liefde tussen mense kan aanmoedig. Deur ‘n verhouding met die kinders te bou, het hy toe besef dat hierdie kinders dikwels op ‘n leë maag skool toe gaan. Dit is waar sy ander inisiatief begin het.

Wat begin het as ’n paar toebroodjies – gevul met grondboontjiebotter en konfyt – het ontplof in ’n volwaardige voedingskema, met kinders wat verskillende roetes na hul onderskeie skole toe stap, om ook iets te ete langs die pad te ontvang. Dit, soos Tebogo sê, is ook in die meeste gevalle die enigste maaltyd wat hulle gedurende ‘n dag ontvang en kan geniet. Kinders kan inderdaad nie op ‘n leë maag konsentreer nie, en sommer vinnig het die aantal kinders wat sy ‘stasie’ besoek het, tot meer as ‘n honderd gestyg.

Hierdie ‘stasie’ is soveel meer as ‘n plek waar hulle ‘n toebroodjie ontvang. Dit is ‘n plek waar Tebogo vir hulle kan wys wat liefde werklik beteken. Hoe deernis uitgeoefen word en hoe vertroue tussen mense ontwikkel word. Wanneer hy ‘n kind binne skoolure in die area sien rondloop, konfronteer hy ook die ouers en kind, om vas te stel hoekom die kind nie in die skool is nie. Tebogo is na regte ook ‘n ‘aanspreeklikheids-aktivis!’ Tebogo het nie net die een geword wat kinders en honde voer nie, maar die een wat ander verantwoordelik en aanspreeklik hou, in liefde en waarheid konfronteer, en soveel ander inspireer om ook hulle rol in opsigself ‘verandering’ vol te staan. Om ander aan te moedig en te wys dat almal in ‘n gemeenskap ‘n verandering tot hulle omstandighede en in hul gemeenskap kan maak.  Sy grootste wens is om ‘n fasiliteit met ‘n kombuis te hê waar die kinders kan eet, nie net een keer ‘n dag voor skool nie, maar na skool voor hulle terugkeer huis toe na wie weet watter omstandighede wat op hulle wag. ‘n Fasiliteit waar hulle nie net kan eet nie, maar kan leer en hul huiswerk doen. ‘n Veilige omgewing waar hulle geleer kan word hoe om lief te hê en verhoudings te bou. ’n Omgewing wat hulle sal herinner aan hoe die lewe veronderstel is om te lyk. Tebogo sal dit baie geniet as hierdie fasiliteit ook plek vir rondloper-diere het. Waar hulle die kinders kan liefhê, en die kinders hulle kan liefhê. Hy droom bo alles van ‘n fasiliteit wat langs ‘n sportveld geposisioneer is, waar die kinders regtig kindwees kan omhels – speel, lag, leef. Daarom het ons besluit om vanjaar se #MadibaDag deur te bring by Tebogo se ‘plek van verskilmaak’. Ons wou vir hom ‘dankie sê’ vir dit wat hy doen met dit wat hy het, daar waar hy is.  Die span wat op Maandag, 18 Julie, bymekaargekom het kon 130 bederfpakkies met toiletware en lekkergoed aan die talle kinders wat hierdie as ‘n veilige hawe beskou uitdeel, saam met ‘n kombers van Mit Mak Motors, mussie en ook ‘n vars worsbroodjie. Addisionele sakkies, geskenk deur NexGard Spectra, het ook ‘n paar kouse van Sox Footwear ingehad. Die ander stasie was vol aksie met die organisasie, Garden of Life, wat die span volwassenes gewys het hoe om ‘n volhoubare groentetuin binne-in rubberbande te plant. Duisende rande se hondekos was ook deur The Queen Petshop geskenk. Ons span was ook bederf met twee tradisionele dansitems wat deur die kinders voorberei en uitgevoer is.  Liewe Tebogo, dankie dat jy nie net vir ons kinders wys wat liefde en diensbaarheid en deernis werklik beteken nie, maar dat jy vir ons die gemeenskap van Soshanguve, Pretoria, Gauteng, en binnekort die hele wêreld gewys het. Mag ons almal ook geïnspireer word om nie net deel te neem aan verskilmaak nie, maar om die verskil te wees. Tebogo, ons leer by jou. Ons eer jou! Ons droom saam met jou oor die leeromgewing en -fasiliteit langs die sportveld waar die kinders regtig kindwees kan omhels – kan speel, lag en leef!

Fotos: Jislaaik-JA! Photography 

Deel hierdie artikel

Leave a Reply