#JouMenseMyMense saam met SPAR – Waar daar lewe is, is daar hoop
Ernestus Pretorius is in Julie 2021 gediagnoseer met ALS/Motor Neuron Siekte. Sy prognose? Vyf jaar…Hy is maar 48 jaar oud. As gevolg van die funksionaliteit van sy regterhand en sy spraak wat drasties deur hierdie siekte geaffekteer is, is hy deur sy werkgewer laat gaan. Hy sukkel ook al hoe meer om te eet, en sy emosies ry vreeslik wipplank. Daar is niks fout met sy brein nie, en is inteendeel ‘n baie intelligente man. Ernestus sal graag nog wil werk, en kan wel in afsondering. Daar waar hy nie vokaal hoef te kommunikeer nie. Hy is baie sterk IT- en rekenaarvaardig.
Hulle goeie vriendin, Yolandie Engelbrecht het vir ons ‘n boodskap gestuur om te help…Sy moes vir Mamma René laatweet dat ons kom kuier, maar Ernestus het van niks geweet nie. Hy was so verras, en het regdeur die onderhoud gesnik soos hy huil.
Mamma René hou tans die fort, en met een salaris in ‘n huishouding van vier, raak omstandighede al hoe meer uitdagend. Sy is ‘n uiters lojale vrou, wat nie skroom om haar alles te gee nie, vir haar man, en ook haar kinders (12 en 10-jaar oud onderskeidelik) – wat tans in die laerskool is, en baie goed op akademiese- en sportvlak presteer.
Yolandie het aan ons gesê, “Dit is maar moeilik om te sien hoe iemand vir wie jy omgee en lief is so agteruit gaan en so vinnig ook! En ek dink wat vir Ernestus die ergste is, is dat sy brein niks makeer nie, maar die monde en hande wil nie meer saam werk nie.”
Liewe Pretorius-gesin. Ernestus, Rene en julle twee pragtige kinders. Alhoewel julle pappa se vlees nou effens in boeie vasgevang is, is sy gees vry. Bly hom sien en omhels vir die man wat hy is. ‘n Man en Pa wat perfek geskape is, wat ten spyte van beperkings nog steeds die Man en Pa is vir wie julle lief is. Waar daar lewe is, is daar hoop! Al kom hierdie lewe soms met onverwagse opdraendes, is daar ‘n God wat ons herinner dat in dit alles, ons meer as oorwinnaars is deur Hom wat ons liefhet. Baie sterkte met julle almal se pad vorentoe. Mag Sy ontferming en vrede julle elke dag vergesel en oorweldig.
GROOTfm 90.5 – met behulp van SPAR en Ecomed Medical – kon nie die Pretorius-gesin se omstandighede verander nie, maar, ons kon so effense asem-skep geleentheid bring met ‘n R1 500-geskenkbewys, ‘n elektrisiteit-koepon en drie maande se huur.
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: