You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Genade vir Grace

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Genade vir Grace

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Genade vir Grace

Louna Vermeulen het vir ons ‘n epos gestuur waarin sy sê: “Die Here lê dit al lank op my hart om vir jou ‘n e-pos te stuur en hulp te vra. Ek gaan my storie so kort moontlik hou. My broer se verloofde is ‘n invalide. Altwee haar bene is geamputeer as gevolg van “gangerine”. My broer moet haar fisies rond dra, toilet toe en haar bad toe dra om te bad. Hy is ook nie gesond nie en ly aan emfiseem. Grace is 71 jaar oud en my broer, 62. Hulle het geen ander behoeftes nie.”

Grace is totaal afhanklik van Martin, en Louna se groot navraag was om haar te help om meer beweeglik te wees – veral wanneer sy moet badkamer toe gaan. Grace maak tans gebruik van ‘n baie ou rolstoel, wat haar seermaak wanneer sy op hom sit.

Toe ons vir Louna laatweet dat ons kon kom kuier, was haar antwoord: “Dankie, dankie! Prys die HERE! My Gebede is verhoor ek het nie woorde nie!”

Buiten hulle huidige uitdagings, is Martin en Grace deur ‘n magdom traumatiese ervarings die afgelope tyd, maar ons kan sien dat hulle baie dankbaar en lief is vir mekaar. Martin se vrou is verlede jaar oorlede na ‘n kort siekbed, en Grace is ook ‘n weduwee. Martin het baie onlangs twee hartaanvalle gehad en is in Steve Biko Hospitaal opgeneem, waar hy gelukkig herstel het. Hy is ook onlangs afgelê deur sy werkgewer as gevolg van sy emfiseem. Toe ontmoet hy vir Grace, en is hulle is nou nie net smoorverlief nie, maar ook verloof.

Grace se twee bene is geamputeer as gevolg van suikersiekte wat ‘gangerine’ veroorsaak het. Sy drink tans ‘n pilletjie, en haar suiker is nou onder beheer. Sy het een week voor ons besoek ook drie van haar vingers met amputasie verloor. Sy is tans totaal afhanklik van Martin, wat haar onder andere moet badkamer toe dra. Haar beweeglikheid is uit die aard van die saak totaal beperk, en haar en Martin se grootste wens was ‘n gemakliker rolstoel wat die proses van beweging vir hulle albei sou vergemaklik.

Martin en Grace bly positief deur mekaar aan te moedig, vir mekaar lief te wees, en bo alles, te bid. Te bly glo dat die Here vir hulle hierdie lewe gegee het, en toegerus het vir die pad wat hulle tans stap – met uitdagings.

Liewe Martin en Grace, ons glo dat julle Vader julle toegerus het vir hierdie pad, maar is nogtans jammer dat julle met soveel letterlike en figuurlik pyn en seer gekonfronteer is. Mag julle in die oorwinning wat ons Here reeds namens jou en my behaal het, floreer! GROOTfm 90.5 kon vir hulle ‘n R1 500 SPAR-geskenkbewys bring. Met die hulp van Wheelchairs on the run, kon ons vir Grace ook ‘n ‘commode’-stoel skenk, wat bewegings badkamer toe sal vergemaklik. Wheelchairs on the run het ook ‘n elektriese rolstoel aan GROOTfm 90.5 geskenk, wat ons vir Grace en Martin kon gee.

Buiten die trane, was daar kliphard gelag! Dit was ‘n voorreg om te kon deel in Martin en Grace se vreugde toe hulle van hierdie GROOT geskenke hoor wat hulle lewe vir hulle soveel makliker gaan maak. Hulle kon nie glo dat iemand dit vir hulle doen nie. Nie geglo hulle was dit werd nie. Martin en Grace, julle is nie net dit werd nie, maar soveel meer. Dankie dat julle ons herinner het dat daar een ding is wat geen omstandigheid, situasie en iets so drasties soos ‘n amputasie kan bedereig nie. Die een ding? LIEFDE! Liefde vir ons God, en liefde vir mekaar! Geniet die nuwe wiele! Veilige myle!

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply