You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Onvergeetlike Annetjie!

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Onvergeetlike Annetjie!

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Onvergeetlike Annetjie!   

Hierdie was sonder twyfel een van die mees uitsonderlike kuiers met die onvergeetlike, alom inspirerende Annetjie de Kock! Sy het haar nek gebreek op 7 en ‘n half maande tydens ‘n ongeluk by die dagsorg. Van die dag af is sy verlam. Sy het deur die jare verskeie operasies aan haar arms gehad wat haar eintlik net “vermink” gelaat het. Sy is so positief, en noem tydens die onderhoud sy kan so gelukkig wees dat haar rugmurg nie beskadig is nie…Sy kies om so positief te wees, want sy sê dis vir haar lekker! Anders sal sy net in ‘n hoekie sit, en haarself jammerkry, en nie die mense ontmoet wat sy reeds ontmoet het nie. GROOTfm 90.5 het gaan kuier…

Annetjie de Kock is deur geweldig baie. Nie net is sy totaal afhanklik van mense se hulp nie, maar is haar twee hoofversorgers kort na mekaar oorlede – verlede jaar haar pa, en verlede maand, haar ma. Sy sê dis nie ‘meer so seer nie’…Sy het skolasties tot by Gr 9 gevorder voordat haar ouers haar uit die skool gehaal het. Nadat Annetjie ontslaan word, na vyf maande in die hospitaal, gaan sy terugkeer na hulle familie-plot toe, waar skapies en boerbokke vir haar wag. Sy het nog groot planne vir die plot, want sy wil die belofte aan haar ouers eerbiedig. Dat sy sal aangaan daar waar hulle opgehou het.

Sy is op 2 Februarie vanjaar in Wilgers hospitaal opgeneem as gevolg van ‘n drukseer. Daar is eers ‘n kolostomie gedoen voordat die drukseer herstel is. Daar was egter komplikasies omdat sy nie op haar maag kan lê nie vanweë die wanposisie van haar arms en skouers. Die drukseer sukkel om gesond te word ten spyte van ‘n 2de chirurgiese prosedure. Die oggend wat ons gaan kuier het, het die internis ook ingeloer en die goeienuus gedeel dat die seer aansienlik beter lyk. Die vooruitsig van huis toe gaan, lyk skielik weer helder! Annetjie is reeds so opgewonde, dat sy haar rolstoel-battery laat kom het om te herlaai. Nie enige battery nie, ‘n kar-battery, waarmee sy so tevrede is…Sy soek niks meer nie.

Chris Booysen van ‘Wheelchairs on the Run’ het Annetjie se storie met ons gedeel. Ons kon, met sy hulp, vir haar ‘n spesiale ‘aerated’ matras skenk wat verdere druksere verhoed. Ons kon ook, danksy ‘Wheelchairs on the Run’ vir haar ‘n splinternuwe rolstoel-battery gee – een wat baie langer hou as die kar-battery wat sy tans gebruik.

Annetjie doen alles met haar mond, beheer selfs haar rolstoel daarmee. Dis nie net haar mond wat beweging teweegbring nie, maar bo alles, haar stem! ‘n Stem wat ‘n storie vertel wat persepsies en perspektiewe radikaal kan verander. Ons is dankbaar vir rolspelers wat ‘n groot verskil maak in Annetjie se lewe. Haar sussies, en ook sussie en man wat saam met Annetjie in die plothuis gaan intrek. Aan Hanlie Meyer, haar fisioterapeut, Suster Carien Serfontein en al die personeel van Wilgers Hospitaal wat hulle oor Annetjie ontferm. Wat soos ons, iets soveel groter in Annetjie se onblusbare gees sien! Annetjie, dankie vir wie JY is. Dankie dat ons almal by jou kan leer. Dat jy ons en so baie ander met jou geesdrif en oorwinnaarsmentaliteit inspireer! Ons bid vir jou! En weet, jou pappa en mamma en Vader, en so baie mense wat Hy reeds toegerus het, kyk na jou! Hulle is by jou! Hulle lewens is verander deur jou!

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply