#JouMenseMyMense saam met SPAR – Morelife
Hoeveel van ons het nie al immigreer of dit oorweeg nie? Vir die vooruitsig van ‘n ‘beter lewe’ nie?
Dis presies wat Morelife gedoen het toe hy vroeër vanjaar sy vrou en dogter in Zimbabwe agtergelaat het vir ‘n beter toekoms, nie vir hom nie, maar vir sy vrou en dogter.
Morelife het op die jong ouderdom van 22 ‘n groot besluit gemaak, ten koste van homself, en ter wille van sy vrou en kinders, en homself besig gehou met los werkies, en elke sent wat hy verdien het, huis toe gestuur. Een aand, toe hy die geleentheid gehad het om nog geld te verdien, deur geld op die spel te sit tydens ‘n snooker-meedinging, het sy lewe drasties verander. Voordat ons ‘n oordeel vel oor die woord, taverne of ‘shebeen’, kom ons dink aan hoeveel keer ek en jy ‘n bedrag op ‘n ‘ooreenkoms’ gesit het. Morelife het die spel gewen, en voor hy sy wenprys kon neem, is hy met ‘n baksteen oor die kop geslaan, en met ‘n mes gesteek. GROOTfm 90.5 het binne-in die hartjie van die informele nedersetting, Plastic View, gaan kuier.
Met aankoms ontmoet ons ‘n span mense – almal is daar vir Morelife. Die leiers van Plastic View het ook onlangs ‘n veiligheidshek (boom-hek) by die ingang van dié informele nedersetting gebou, om die veiligheid te verbeter, en om beter beheer te hê oor mense en goedere wat die perseel binnegaan en verlaat. Francis Tesororiana, Ezekiël Majoe, Pierre Wilhelm, Claude Jarrard, Sanet Fagan van SA Cares for Life, en Elmarie Geldenhuys, die hoofverpleegster by die kliniek, Woodlane Village Clinic. Hierdie kliniek is onlangs opgerig vir die gemeenskap, een wat meer toeganklik is vir die mense, en die enigste alternatief buiten ‘n kliniek ongeveer 50 km weg. Hierdie kliniek, wat ook totaal afhanklik is van skenkings, om sy kinders en mense te dien en te beskerm, loop tans leeg. Suster Elmarie stap al ‘n lang pad met Morelife, en gee gereeld vir hom pynmedikasie – dis al wat op hierdie stadium help. Die span se hande is afgekap, met die dat mediese sorg vir Morelife en ‘n akkurate diagnose beperk is. Hy lê elke dag en aldag in sy 2 x 2m sinkhuisie, met lede van die gemeenskap wat kort-kort inloer om hom te bemoedig. Claude en Pierre, wat die mans van Plastic View bedien met Woord en ‘n program genaamd, Power of the Father, gaan sit gereeld by Morelife om vir hom te bid. Ezekiël en Francis, bring vir hom gereeld kruideniersware en sien nie net om na die welstand van sy vlees nie, maar ook sy gees. Sanet Fagan, wat ‘n uitsonderlike deernis vir hierdie gemeenskap het, was die sameroeper en is die leier van die span wat Morelife na die dokter toe neem. Kort na die voorval het die NG Kerk Moreletta Park vir Morelife gehelp met ‘n rolstoel. Nou staan sy vordering stil. Die gemeenskap weet met die regte mediese sorg dat Morelife se toestand en vooruitsig sal verbeter.
Toe ons daar instap sien ons net ‘n glimlag. ‘n Vreugde en dankbaarheid, te midde van groot trauma. Morelife, wat na Suid-Afrika toe verhuis het, het presies dit verwag. ‘More Life’. Meer van die lewe wat hy in Zimbabwe beleef het, en kon bied vir sy vrou en kind. Tot sy teleurstelling…
Ons glo in ‘n Magtige God, wat wonderwerke kan verrig. Ons besef opnuut dat geweld, en swaarkry, en armoede nie ‘n ‘race’ ding is nie, maar ‘n ‘human race’ ding. Mag ons, wat EEN Vader het, EEN Hemelse en Waardige Koning, al Sy kinders eerbiedig, liefhê en dien – soos wat Hy doen. Mag ons opnuut bewus wees van die Grootheid van Sy liefde en genade, en besef dat ons verantwoordelikheid om ‘n verskil te maak, nie grense het nie.
Morelife het ‘n nuwe vertrekpunt. Ons is dankbaar vir Operation Healing Hands se Dr Helene Basson, wat Morelife wil sien vir ‘n konsultasie. Vir SPAR wat ons die geleentheid gegee het om vir Ezekiël te kon Seën met ‘n geskenkbewys om vir Morelife te sorg met kos. Mag sy vooruitsig weer dit word. ‘n Vooruitsig van ‘n beter lewe vir hom, sy vrou en hulle pragtige kind. Ons vertrou en hoop en glo saam met jou, Morelife! En ons hou die goeie nuus dop!
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: