#JouMenseMyMense saam met SPAR – ‘n Hulpkreet uit Hermanstad…Vervolg!

#JouMenseMyMense saam met SPAR – ‘n Hulpkreet uit Hermanstad…Vervolg!

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – ‘n Hulpkreet uit Hermanstad…Vervolg!

Vir die wat op die 7de April 2021 tydens #SlatDiePad ingeskakel het, het gehoor hoe ons vertel van Hannelie van Deventer en haar dogter, Larochelle, wat in ‘n gat vasgevang is. Hulle het, voor ons besoek geen kos in hulle kaste gehad nie, ook nie genoeg elektrisiteit om in warm water te kan stort nie. Hannelie het haar hart met ons gedeel…haar verlede, en, haar hede. Dit wat haar die meeste pla, is dat sy nie volgens haar voldoende vir haar dogter kan sorg nie. Dat, al wat Larochelle so baie vir vra, ‘n lekkertjie is. Dat haar registrasiefooi as professionele suster slegs R450 kos om te hernu. Dat sy ‘n kleintjie dood het daaraan om afhanklik van ander mense te wees. Sy wil self sorg, en het al alles in haar vermoë gedoen om ‘n meer permanente werk te kry.

Na die insetsel op Woensdag, 7 April, het Thys van Zyl van Everest Wealth Management ingebel en aangebied om vir Hannelie en Larochelle ‘n bedrag geld in te betaal – net om hulle weer op hulle voete te kry. Die reaksie op hierdie middag, saam met die reaksie in die volgende week, was so oorweldigend dat ons besluit het om ‘n opvolg verhaal te doen, en vir Hannelie, Larochelle, en die samaritane van Everest Wealth Management ateljee toe te nooi. Hannelie was nog nie bewus van die geborgde fondse nie…

21 April breek aan, en Hannelie, Larochelle, Jamie en George Smal stap in die ateljee in. Ons gesels eers oor die week wat was, en Hannelie deel met ons die oorweldigende reaksie van die GEEmeenskap. Van mense wat aanbied om vir haar en Larochelle wintersklere te koop, ‘n yskas vol vleis en kos te voorsien, en om haar te help om haar voertuiglisensie te kry. Tot beraders vir Larochelle – om ook ‘n pad met haar te stap vir dit waardeur sy is.

Net voor 17:00, breek George Smal van Everest Wealth Management die nuus. Die bydraes waarmee die maatskappy haar Seën, is oorweldigend. Nie net die eenmalige bedrag nie, maar ‘n maandelikse bydra ‘net totdat sy weer op haar voete kom’, sê George. Ons deel met haar dat sy nog met ‘n verdere inbetaling geSeën gaan word, met bydraes wat by GROOTfm 90.5 inbetaal is.

Soos George en ons alles opnoem wat sy as trappies kan gebruik om uit hierdie donker en diep gat te klim, sak haar ken…haar woorde word al hoe minder…en haar trane word al hoe meer. Larochelle weet nie hoekom haar mamma huil nie…en vee dit af. Ons probeer vir haar sê dis gelukkige trane…En Larochelle vra haar ma; ‘Mamma, het ons nou geld?’

Om die middag op ‘n letterlike hoë noot af te sluit, gee Ruben vir Larochelle geleentheid om regstreeks oor die mikrofoon, op lug, te sing! Sy maak net daar en dan ‘n liedjie op, en die vreugde in haar hart vir wat pas gebeur het, vorm ‘n melodie.

Dit was ‘n oomblik wat nie net ‘n oomblik kon wees nie, maar een wat tot in Ewigheid sou strek. Mag Hannelie en Larochelle se verhaal ons inspireer, en opnuut bewys dat die Here nie net-net sorg nie, maar in oorvloed! Wat ‘n groot voorreg om te kan deelwees van Hannelie en Larochelle se getuienis. Maar, dit gaan nie oor ons nie, maar oor Hom. Dit gaan altyd oor Hom.

Om betrokke te raak by JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply