#JouMenseMyMense saam met SPAR – Petri en sy ‘Rolls-Royce’
Ria Smit het aan ons ‘n epos gestuur waarin sy bystand versoek het namens haar 57-jarige broer, Petri Nortje. Petri is n Tipe 1 diabeet en het in Oktober 2017 sy regterbeen verloor as gevolg van gangreen. Hy was ‘n nagskof veiligheidswag toe hy in ‘n geroeste staal-spyker getrap het. Eers was net die voet geamputeer, twee weke later het hy weer ‘n amputasie onder die knie ondergaan, aangesien die wond nie wou herstel nie, en kort daarna weer ‘n amputasie aan sy bobeen.
Petri woon tans in Manger Care, ‘n tehuis vir bejaardes en mense met fisiese gestremdhede. Petri kan die verblyf tans met sy SASSA-inkomste bekostig.
Sy suster, Ria, is Petri se enigste familie, en is Ria en Petri die enigste oorlewendes van hul gesin van ses.
Tot en met ons kuier, het Petri met ‘n leen-rolstoel klaargekom. Die wiele was al totaal verinneweer, siende dat die terrein waar hy bly baie klipperig is.
Petri se hande staan vir niks verkeerd nie en hy omhels die funksionaliteit hiervan. Hy gebruik dit tans om groente te verbou by Manger Care. Hy het ons vermaak met sy skerp humorsin en kwinkslae, ondanks die trauma wat hy al in sy lewe ervaar het.
Hy was verheug oor die geskenk waarmee GROOTfm 90.5 hom, met behulp van ‘n skenking deur Nico Heyns, kon bederf – ‘n splinternuwe, blink ‘tuffy’-model rolstoel. Ons is dankbaar vir ons vennote, ‘Wheelchairs on the run’ en Chris Booysen wat die rolstoel verskaf het, asook die raad ten opsigte van ‘n model wat goed op die plot by Manger Care sou aard.
Petri het luidkeels gesê, ‘Wow’, en na sy nuwe ryding verwys as ‘n ‘Rolls-Royce’. Hy is baie dankbaar vir al die rolspelers wat die volgende hoofstuk in sy lewe vir hom kan vergemaklik. Hy kon nie wag om te gaan ‘brag’ by die res van die inwoners van die ‘Wieletjies Kamer’ nie. Petri, ons is saam met jou dankbaar! Veilige myle!
Jou mense is my mense, en saam is ons beter!
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: