You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – ‘Bucket list’ wittebrood vir Larami en Otto Meyer

#JouMenseMyMense saam met SPAR – ‘Bucket list’ wittebrood vir Larami en Otto Meyer

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – ‘Bucket list’ wittebrood vir Larami en Otto Meyer

Larami en Otto Meyer het vandag die verrassing van hulle lewe gekry nadat GROOTfm 90.5 se omgeeprojek, Jou Mense, My Mense, vliegtuigkaartjies na dié moederstad en kaartjies vir onder meer ‘n besoek aan Tafelberg aan hulle oorhandig het.  Dié oorhandiging is tydens ‘n omgee-insetsel gedoen en nie net Larami en Otto se trane het geloop nie, maar ook die wat by die opname betrokke was.

Annette Reed, hoof uitvoerende beampte van Centurion Hospice, het ook ‘n volgepropte koevert aan hulle oorhandig “waarmee die twee ‘n romantiese Kaapse-ete kan geniet,” het sy geknipoog.

“Ek kan dit nie glo nie. My droom is bewaarheid,” het Larami, wat verlede jaar Desember met ‘n raar kankerkarnisoom gediagnoseer is, gesê. “’n Besoek aan Tafelberg was op my emmerskoplys. Ek was ook nog nooit in Kaapstad nie, en op Blouberg-strand te gaan stap; sukkel-en-al gaan ‘n ervaring van ‘n leeftyd wees.”

Die paartjie sou nie op ‘n wittebrood gegaan het nie, want hulle finansies het dit nie toegelaat nie, maar die publiek se omgee stuur hulle nou op 25 Junie vir vyf dae na Kaapstad toe. Etes, verblyf, vliegtuigkaartjies, uitstappies en sakgeld ingesluit.

Centurion Hospice se paaie het in April vanjaar met dié van Larami gekruis nadat sy navraag gedoen het oor dié hospice se binnepasiënte-eenheid. “Ek het besef dat ek moontlik in ‘n hospice opgeneem moet word. En Centurion Hospice is die beste in die land.”

Haar liefdesverhaal, wat begin het toe sy maar dertien jaar oud was, het die Centurion Hospice-personeel so ontroer dat hulle binne nege dae ‘n troue vir die paartjie gereël het.

Na dié twee se troue het hulle hul liefdesverhaal aan die media vertel en trane is van Pretoria tot in Amerika afgedroog. “Wat ‘n wonderlike liefdesverhaal – iets romanties so tussen dood en die pandemie deur,” het ‘n leser laat weet. 

Donasies het ook van regoor die land ingestroom om Larami se droom te bewaarheid, en dit is ook hoe GROOTfm 90.5 betrokke geraak het.

Sonet Stofberg, die gemeenskapsprojek-koördineerder van Jou Mense, My Mense, het gesê dis ‘n goedvoel-storie en dat Larami en Otto hulle geïnspireer het om weer in ware liefde te glo. “Dit is ‘n mooi storie wat hulle kan vertel en dáárdie storie moet gedeel word.”

Nerina Smith, ‘n gastehuiseienaar en ook die koningin van liefdadigheid, het dadelik vir Larami en Otto verblyf by die Smithland Guesthouse Apartments in Parrow aangebied. “Ek het die fasiliteite en ek help graag mense. Larami en Otto se verhaal het my diep geraak.”

Nerina het ook aangebied om hulle op die lughawe te gaan haal en hulle op die uitstappies te vergesel. “Ek sien baie daarna uit om hulle te ontmoet.”

Larami sien uit na al die uitstappies, maar as sy haar sin kon kry, het sy sommer elke aand op Tafelberg oornag.

(Artikel: Yolanda Lemmer – The Talking Drum)

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply