You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Francois Retief, Hemelkind

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Francois Retief, Hemelkind

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Francois Retief, Hemelkind

Sonja en Francois Retief se lewens het op 21 September 1996 onherroeplik verander. Francois is as 11-jarige sportster die aand omstreeks 18:00 deur ‘n man met sy voetuig raakgery. Sy ma, Sonja, moes na 13 jaar in diens van die Sasolburg Stadsraad bedank, en verhuis na Pretoria sodat Francois na die Nuwe Hoop Skool toe kon gaan.

Die dokters het na Francois se ongeluk gesê sy lewensverwagting is slegs vier maande. Hulle het hom huis toe gestuur “om in sy eie kamer dood te gaan”.  Volgens hulle sou hy nie uit die koma wakker word nie en sou hy totaal “vegetatief” wees. Boonop nie eers weet dat Sonja sy ma is nie. Ten spyte van hierdie prognose, is Francois op pad om sy 37ste verjaarsdag te vier, en hy weet baie goed dat Sonja sy ma is.

Kort na die ongeluk is Sonja en Francois se pa, Hein Retief geskei. Sonja het alleen toesig oor Francois en sy boetie, Jacques gehad, en het hulle veral vanaf 2017 ‘n noue verhouding met hul pa gehad. Hein is egter in 18 Januarie 2018 oorlede as gevolg van ‘n beroerte.  Volgens Sonja was dit vir Francois baie hartseer, want hy het baie van sy leierskapeienskappe, deursettingsvermoë en volharding, en sy liefde vir krieket met sy pa gedeel. Dit was die hoogtepunt van sy week – die twee middae wat hy sy “afrigter” hemp kon aantrek en saam met sy pa skool toe gaan, waar Hein ‘n krieketakademie bestuur het.  

In ‘n kort tydperk is Sonja se oudste seun, Jacques en haar ma oorlede. Dit was ook vir Francois baie hartseer en kon hy nie sinmaak daarvan dat sy boetie voor hom moes doodgaan nie. Sy boetie wat so normaal was.Twee jaar na hulle dood is Sonja se pa oorlede en ‘n jaar daarna is Hein oorlede.  So moes Francois sy boetie, sy ouma en oupa – wat hom versorg het terwyl Sonja gewerk het – en toe ook nog sy pa aan die dood afstaan. Nou is dit net hulle twee wat oor is.

Sonja is sedert Desember 2018 op pensioen en verdien nie meer ‘n ander inkomste nie, omdat Francois totaal afhanklik van haar sorg en teenwoordigheid is. Die ekstra inkomste om Francois se mediese uitgawes (insluitend kroniese medikasie) te dek, is afkomstig van die RAF-toelaag, wat eers hulle eise na 180 dae betaal.  

Sonja eindig haar skrywe aan my af met die volgende woorde: ‘Loof die Here, want Hy is goed. Aan Sy liefde is daar geen einde nie. Wat ‘n ongelooflike voorreg om Francois vir 36 jaar te kan koester.  ‘n Ongelooflike kosbare seun wat nooit enigiets as vanselfsprekend aanvaar nie. Wat altyd onvoorwaardelik lief het. Wat elke dag voluit leef, nooit ophou lag nie, nooit ophou glo nie, nooit ophou bid nie. ‘n Warrelwind, babbelkous wat soveel liefde uitstraal en ‘n ieder en ‘n elk met sy aansteeklike lag laat saam skater. Dankie Here dat ek hom elke dag kan vashou in plaas van om by ‘n hopie grond ‘n blom neer te lê.’

GROOTfm 90.5 kon met behulp van donasies vir Sonja en Francois ‘n ‘Patient Lifter – Hydraulic Hoist’ en ‘n pasgemaakte ‘Riser Recliner’ stoel skenk. Ons kon ook, met behulp van ons familie by SPAR, vir Sonja en Francois ‘n R2 000-geskenkbewys gee.

Fotos: Jislaai-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply