You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Malome’s Movement

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Malome’s Movement

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Malome’s Movement

Tebogo Maredi is ‘n 32-jarige man wat sy werk as operasionele bestuurder verloor het as gevolg van afleggings en toe besluit het om ‘n verskil in die gemeenskap van Soshanguve te maak. Hy het begin om kinders op te voed oor hoe om diere te behandel – met liefde, respek en deernis. Met inisiatiewe soos die ‘loop-die-hond-uitdaging’ het hy hulle geleer dat ‘n hond soveel meer kan wees as ‘n troeteldier –  ‘n metgesel, ‘n lewenslange vriend, en iemand met wie hulle kan praat wanneer omstandighede by die huis moeilik raak.

Soos Tebogo hierdie reis saam met die kinders begin het en hulle geleer het om diere lief te hê, het hy besef dat deur hulle hierdie liefde te leer, dit ook liefde tussen mense kan aanmoedig. Deur ‘n verhouding met die kinders te bou, het hy toe besef dat hierdie kinders dikwels op ‘n leë maag skool toe gaan. Dit is waar sy ander inisiatief begin het.

Wat begin het as ’n paar toebroodjies – bedek met grondboontjiebotter en konfyt – het ontplof in ’n volwaardige voedingskema, met kinders wat verskillende roetes na hul onderskeie skole toe stap, om ook iets te ete langs die pad te ontvang. Dit, soos Tebogo sê, is ook in die meeste gevalle die enigste maaltyd wat hulle gedurende ‘n dag ontvang en kan geniet. Kinders kan inderdaad nie op ‘n leë maag konsentreer nie, en sommer vinnig het die aantal kinders wat sy ‘stasie’ besoek het, tot meer as ‘n honderd gestyg.

Hierdie ‘stasie’ is soveel meer as ‘n plek waar hulle ‘n toebroodjie ontvang. Dit is ‘n plek waar Tebogo vir hulle kan wys wat liefde werklik beteken. Hoe deernis uitgeoefen word en hoe vertroue tussen mense ontwikkel word. Wanneer hy ‘n kind binne skoolure in die area sien rondloop, konfronteer hy ook die ouers en kind, om vas te stel hoekom die kind nie in die skool is nie. Tebogo het nie net die een geword wat kinders en honde voer nie, maar die een wat ander verantwoordelik en aanspreeklik hou, in liefde en waarheid konfronteer, en soveel ander inspireer om ook hulle rol in opsigself ‘verandering’ vol te staan. Om ander aan te moedig en te wys dat almal in ‘n gemeenskap ‘n verandering tot hulle omstandighede en in hul gemeenskap kan maak.  Sy daaglikse uitgawes is moeilik om te bepaal, maar sluit meer as 20 brode, 1 kg grondboontjiebotter en 1 kg konfyt in. Dit beloop ongeveer R500 per dag, en sal aanhou toeneem namate die behoefte en aantal kinders vermeerder. Sy grootste wens is om ‘n fasiliteit met ‘n kombuis te hê waar die kinders kan eet, nie net een keer ‘n dag voor skool nie, maar na skool voor hulle terugkeer huis toe na wie weet watter omstandighede wat op hulle wag. ‘n Fasiliteit waar hulle nie net kan eet nie, maar kan leer en hul huiswerk doen. ‘n Veilige omgewing waar hulle geleer kan word hoe om lief te hê en verhoudings te bou. ’n Omgewing wat hulle sal herinner aan hoe die lewe veronderstel is om te lyk. Tebogo sal dit baie geniet as hierdie fasiliteit ook plek vir rondloper-diere het. Waar hulle die kinders kan liefhê, en die kinders hulle kan liefhê. Hy droom bo alles van ‘n fasiliteit wat langs ‘n sportveld geposisioneer is, waar die kinders regtig kindwees kan omhels – speel, lag, leef.

Tebogo se span het gegroei, met vrywilligers wat hulself beskikbaar stel – soos sy projek eksponensieel groei. Rifilwe Mogomotsi, Caroline Ncoko en Zakhona Mudau is die drie vroue wat Tebogo se hande sterker maak. SPAR het van Tebogo se storie gehoor, en dit het hulle ook geïnspireer. Hulle het nie net R1 500 SPAR-bewys vir sy saak geskenk nie, maar het besluit om elke maand vir ses maande ‘n verdere R1 500-koopbewys te skenk. Toe Tebogo en sy span die nuus hoor, was hulle baie opgewonde, want hy deel met ons hoe hulle daagliks wonder waar môre se kos vandaan sal kom. Clariza Botha van Inani Startwell Foundation het twee 12kg-houers vol Startwell Voedingsryke pap geskenk. Francois Schoombee het van Kerk Sonder Mure Centurion 1 500 maaltye in die vorm van nog voedingsryke pap geskenk. Retha Inglenbeek van SPAR Noordstreek het Sunbake broodverskaffers aan boord gekry, om ***** brode per maand aan Tebogo, en Malumi’s Movement te skenk. Willie Mouton van BigBox Containers het vir Tebogo ‘n 3 x 3m BigBox geskenk – ‘n fasiliteit waaruit Tebogo soveel honger kinders kan voer. GROOTfm 90.5 kon vir Tebogo vanuit die #HOOPstoot-rekening ‘n boksvrieskas skenk, waar hy voorraad kan stoor. En, Ecomed Medical was so geraak deur Tebogo se verskilmaak, dat hulle vir hom R10 000 geskenk het, en ‘n verdere R5 000 per maand tot Desember 2023.  Liewe Tebogo, dankie dat jy nie net vir ons kinders wys wat liefde en diensbaarheid en deernis werklik beteken nie, maar dat jy vir ons die gemeenskap van Soshanguve, Pretoria, Gauteng, en binnekort die hele wêreld gewys het. Mag ons almal ook geïnspireer word om nie net deel te neem aan verskilmaak nie, maar om die verskil te wees. Tebogo, ons leer by jou. Ons eer jou! Ons droom saam met jou oor die leeromgewing en -fasiliteit langs die sportveld waar die kinders regtig kindwees kan omhels – kan speel, lag en leef! 

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply