#JouMenseMyMense saam met SPAR – Na die soveelste ‘nee’…
Francina van Zyl is nog ‘n moedelose mamma nadat haar man sy werk verloor het, en sy ‘n klein salaris verdien. Haar man in intussen deur iemand aangestel op ‘n probasietydperk. Hulle het vier dogtertjies – vanaf ouderdomme 3 tot 11. Francina sê hulle het op die oomblik geen geld nie, en probeer om elke aand ‘n plan te maak sodat hulle dogtertjies nie honger gaan slaap nie.
Behalwe vir die behoeftes van hul eie gesin, woon haar skoonma en haar kêrel, ook hulle twee kinders by hulle. “Hulle was sonder blyplek en ek kan ongelukkig nie mense op straat sit nie.” Haar skoonma is intussen ook skielik oorlede…
Dit was vir Francina baie moeilik om met ons kontak te maak en sê sy; “Ek het nog nooit hulp gevra nie. Ek en my man sal eerder ‘n plan maak of ander help voor ons enige hulp vra, maar as ‘ma’ kom daar seker ‘n tyd om daai trots te sluk!’ GROOTfm 90.5 het gaan kuier…
Francina werk tans van die huis af en haar man, wat sy vorige werk verloor het, het los werkies gedoen vir daglone. Hy het nooit moed opgegee nie, en het nou ‘n geleentheid gekry. In die tyd wat hy werkloos was, het hulle gat net nog dieper geword. Maar, gee nie om hoe moeilik dinge by die huis gaan nie, hou Francina nie haar 9 en 11-jarige dogters uit die skool nie. Sy moes wel as gevolg van omstandighede haar 2 en 5-jarige tuis by haar begin hou.
Dit is vir Francina die moeilikste ding om vir haar kinders ‘nee’ te sê. Nie vir luukshede nie, maar basiese behoeftes. Ons kon, met behulp van SPAR vir hulle ‘n R1 500-geskenkbewys skenk. Ons weet haar kinders staar ‘n koue winter in die gesig…daarom kon ons ook ‘n geskenkbewys van ‘n sentrum waar julle hierdie behoeftes kan bevredig, aan hulle skenk ter waarde van R5 000. Ons kon ook, vanuit ons omgee-rekening en verskeie donasies, vir hulle ‘n #HOOPstoot gee met een maand se huur.
Liewe Francina, ons kan hoor jou hart huil. Dankie dat jy deur hierdie trane en mismoed bly opstaan – ter wille van jou kinders. Dankie dat jy vir ons gewys het dat jy alles sal doen en sal gee om vir jou dogters iewers te kan ‘ja’ sê – na die soveelste ‘nee’. Hou aan aanhou! Ons is saam met julle opgewonde oor die vooruitsig van verligting en voorspoed, uit die hand en hart van ons GROOTSTE en ENIGSTE Voorsiener en Vader! Die Van Zyl’s sal weer sorgeloos floreer, soos julle gebore is om te doen!
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: