You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Lucy’s Den

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Lucy’s Den

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Lucy’s Den

‘n Rukkie gelede het GROOTfm 90.5 twee versoeke uit verskillende oorde ontvang wat vra of ons nie kon help met die verligting van omstandighede by Lucy’s Den nie. Van Marco Viljoen, en van Adelei Geldenhuys, ‘n verpleegster by Zuid-Afrikaanse Hospitaal. Ons kon nie die versoeke ignoreer nie, en het gaan kuier…Lucy Hammond het Lucy’s Den / Plek van Geloof begin omdat sy gesien het daar is ‘n geweldige behoefte vir veral ouer mense wat nie ‘n heenkome het nie. Ja, hulle is deur hulle familie verwerp. Sy het ‘n uitsonderlike groot passie vir mense, en om hulle te versorg. Daar is tans 13 kinders en 27 volwassenes – die kinders tussen die ouderdomme van 5 en 16 jaar oud. Soms wil sy moed opgee, maar haar antwoord op dit, “Waar gaan hierdie mense heen”.

In April vanjaar is Lucy se man en steunpilaar, Joel, eweskielik oorlede. Hy het met sy karige salaris vir Lucy gehelp met die huur elke maand. Sy werk se bakkie was ook hul vervoer die laaste paar maande.  Lucy se kar het gebreek en sy kon nie meer die kinders skool toe vat elke dag nie, maar gelukkig was Joel se werksbakkie beskikbaar, vir nou. As die voertuig teruggeneem word kan die kinders nie meer skool toe gaan nie, en Lucy kan nie ry om kos te gaan koop nie. Daar is talle ander uitdagings, soos die wasmasjien wat gebreek het, en ‘n paar van die inwoners wat kort na mekaar oorlede is.  

Marco Viljoen, van wie ons ook ‘n versoek gekry het, ontvang af en toe kos van Doulos Armoedebediening wat hy dan deurvat, maar hulle donasies het ook opgedroog met die Covid.  Marco hou een keer per maand ‘n kinderpartytjie vir kinders wat in die maand verjaar het, en hy doen ‘n kersfees dag vir hulle. Maar die dag tot dag gaan moeilik, sê Marco. “Lucy glimlag altyd en kla baie min. Sy het baie trots, en ek dink sy kry dalk skaam oor sy voel sy laat al haar mense in die steek. Sy kom gelukkig voor, maar ek wil so graag eendag ‘n werklike gelukkige glimlag sien.”

Saam met Marco, en die verpleegeenheid van Saal B van Zuid-Afrikaanse Hospitaal, kon ons vir die gemeenskap van Lucy’s Den, met wat hulle noem, ‘Christmas in July’, hou. Die verpleegsters van Saal B het vir almal as deel van ‘n ‘Kindness’-maand, elke volwassene en kind, ‘n verrassingspakkie opgemaak en uitgedeel. Met behulp van Atterbury Trust se Terugploeg, was daar skenkings van vars vleis en groente, ook nie-bederfbare kos. GROOTfm 90.5 het op Lucy gefokus, en kon help met SPAR-geskenkbewyse. Haar dankbaarheid was groot, en haar reaksie, “…vir die broodjies. Ek gaan hierdie gebruik vir die broodjies”. GROOTfm 90.5 kon met behulp van ‘n kruideniersware-skenking van twee engele, Christa en Mari, vir hulle drie bokse nie-bederfbare produkte bring, en klereskenkings wat ons ontvang het.

Liewe Lucy, ons is jammer vir die uitdagings, maar ons is dankbaar vir die oorwinnings. Soos jy ook sê, jy het dit ‘Die Plek van Geloof’ genoem, want maak nie saak hoe dor die vooruitsig lyk nie, die Here voorsien altyd. Dankie, Lucy, dat jy vir soveel mense ‘n veilige hawe skep. Dat jy besluit het om hulle te bemagtig toe die wêreld hulle verwerp het. Doortjies, wat al van die begin af onder Lucy se vlerk floreer, vertel ons hoe sy op straat gelewe het, en hoe Lucy haar ingeneem het, onvoorwaardelik. Hoe Lucy haar van die Here vertel het. Hoe Doortjies nou Sy kind is. Die beste geskenk wat jy aan iemand kan gee bly tog dit. Die waarheid. Die waarheid oor jou Vader se liefde vir jou. Die waarheid oor elke mens se waardigheid wat skuiling vind op die plot in Kameeldrif. Liewe Lucy, ons weet ‘n paar skouers wat help dra het is nou weg, maar onthou, sag is Sy juk, en lig is Sy las.

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply