You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Van oorleef tot oorwin!

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Van oorleef tot oorwin!

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Van oorleef tot oorwin!

Hesta en Waldo Swanepoel het ‘n storie en ‘n half om te deel. Die afgelope 19 jaar was nie maklik nie, en smag hulle na ‘n ‘Sjoe!’ en sorgvrye volgende 19! Tans bly hulle staande soos hulle kinderlik afhanklik van die Here is, styf vashou aan Sy soom, ondanks baie vrae en ‘n behoefte om asem te skep. Mamma Hesta is al ‘n klompie jare enkelmamma, en is Waldo se pa ‘n paar jaar terug oorlede. ‘n Week na sy dood, is haar ma en Waldo se ouma oorlede. Sy smag na iemand wat vir Waldo ‘n kans sal gee met ‘n werk, en is tans besig om hom soveel moontlik met kort-kursusse verder te bemagtig. Hy is bo-gemiddeld getoets vir ‘n tegniese aanleg, maar tans beperk finansies sy verdere kwalifikasies.

Hesta se suster het vir ons ‘n epos gestuur, en haar suster beskryf as ‘n ‘warrior’ wat nooit kla nie. Hesta was huiwerig oor die kuier, want sy wil net nie as ‘n slagoffer voorkom nie. Sy sê self hulle het soveel om voor dankbaar te wees, al oorval die onsekerheid van veral Waldo se toekoms haar. Sy ken Waldo se potensiaal, maar voel ook soms minderwaardig omdat sy nie die rol as ‘pappa’ kan vertolk nie. Sy voel soms asof die wêreld haar en Waldo verwerp het, maar erken ook dat hulle hulself isoleer ter wille van beskerming. 

Haar stem bewe soos sy ons van hulle vele uitdagings vertel, maar, alhoewel haar hart baie seer is, en haar mismoed kort-kort sy verskyning maak, eindig haar sinne met hoop env rede, met die wete dat die Here weer sal sorg vir uitkoms en ‘n deurbraak – soos Hy altyd doen.

GROOTfm 90.5 het gaan kuier om bo alles vir haar dankie te sê vir haar waagmoed, oorwinnaars-mentaliteit, en sommer net vir die mens en mamma wat sy is! Liewe Hesta, ons weet, soos jy ook deurlopend verklaar, dat die deurbraak waarvoor julle bid, op pad is in Jesus naam! Ons dink aan Jannie Putter se woorde waar hy sê dinge gebeur nie met ons nie, maar vir ons.

Ons kon vir hulle R2 000 SPAR-geskenkbewys skenk, en een maand se huur betaal – ter wille van asemskep en daai ‘sjoe’-uitasem waarna hulle so smag. Mariana Kriel van Helpende Hand het voorgestel dat Waldo twee kursusse voltooi by State of the Arc Academy…die kursusse is vir Shielded Metal Arc Plate Welding ADVANCED -Plate all positions (20 dae) Gas Metal Arc welding (10 dae). Dit sal hom verder bemagtig…en, sy het ook vir hom ‘n borg gekry hiervoor…

Liewe Hesta, ons hou saam met jou vas aan die Here se soom! Ons verklaar saam met jou en Waldo dat die volgende 19 jaar en verder, nie soos die afgelope jare was nie. Maar, ons is ook dankbaar vir die karakter van die karakters wat in die afgelope 19 jaar gevorm het. Die hoofkarakters van die storie wat ons vandag van kon vertel. Die storie, met ‘n oorvloed deurbrake en voorsiening, en julle twee, wat vandag kan getuig van die Here se goedheid. Ons is saam met julle opgewonde oor die vooruitsig van ‘n sorgvrye lewe, en om te sien wat Waldo nog met sy bo-gemiddelde tegniese aanleg gaan bereik. Hoe hy met hierdie eksklusiewe vaardigheid wat hy van ons Vader af gekry het, ‘n groot verskil gaan maak. Mag dit wat nie met julle gebeur het nie, maar vir, julle daagliks die dryfkrag gee om nie net te oorleef nie, maar te OORWIN! 

Baie dankie aan SPAR wat hierdie alles moontlik maak, en aan Mariana Kriel van Helpende Hand wat gaan help om Waldo verder te bemagtig. Ons is vir julle baie dankbaar!

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply