#JouMenseMyMense saam met SPAR – Psalm 37:5
Chantelle Theunissen het ‘n ruk gelede ‘n epos aan ons gestuur en gevra vir hulp om uit die gat te kom. Haar man is die enigste broodwinner, met ‘n salaris van R5 800 per maand. Net hulle huur is R3 500 per maand. Chantelle het haar werk verloor tydens die pandemie, en na vele probeerslae en die uitstuur van haar CV, het sy ‘n week gelede ‘n werk in ‘n kroeg gekry – waarvoor sy R22 per uur betaal word.
Sy sê in haar brief, ‘die dag wat ek nie nodig het om te bekommer wat my kinders vanaand gaan eet nie, sal ek voel ek het gewen’.
Hulle gat het nog dieper geword…’n Week gelede, terwyl sy by die werk was, het haar man, Braam, selfdood gepleeg. Chantelle is in sak en as…Haar vooruitsig is dor, en sy weet nie hoe sy na haar drie kinders gaan omsien nie. Janike benodig dringend ‘n bril, Damon is ‘n woelige twee-jarige, en die een-jarige Emily het ‘n groot behoefte aan voedsame kos. Chantelle se grootste bekommernis is nie haar eie welstand nie, maar die van haar kinders.
Tans in hulle koskaste is twee uie, en mieliemeel. Die vier-jarige Janike se grootste behoefte is ‘koekies’! Terwyl Chantelle nog rou en wonder oor haar man se selfdood, probeer sy kop bo water hou, en vrede vind met dit wat gebeur het. Daar is nie geld vir ‘n roudiens nie, maar fokus sy nou op antwoorde wanneer haar kinders vra waar hulle pappa is.
GROOTfm 90.5 het gaan kuier en voelers uitgesteek na individue wat wanneer moontlik, hulle hande en harte opsteek om saam ‘n #GROOTverskil te maak. Lize Bothma van Lize Bothma Begrafnisondernemers het aangebied om te help met ‘n roudiens vir Braam. ‘n Anonieme skenker, wat die naam Brrr-Beer gebruik, het aangebied om drie maande se huur te betaal vir Chantelle en haar drie kinders. Daar was ook drie Brrr-Bere wat aan elkeen van die kinders gegee is. Op die Brrr-Beer se magie staan daar die gedeelte uit Psalm 37:5, ‘Laat jou lewe aan die Here oor, en vertrou op Hom. Hy sal sorg’.
‘n GROOT dankie aan SPAR, vir die R1 500-geskenkbewys om die koskas voller te maak.
Chantelle word elke dag wakker met ‘n berg bekommernisse, maar, ons dien en vertrou ‘n God wat hierdie berge kan verskuif. Ons bid saam met julle vir uitkoms, deurbrake, vrede en bo alles, oorwinning. Mag jou hart genees. Mag Hy hierdie onbeantwoorde vrae met Sy vrede vul. En, mag julle as gesin weer eendag floreer!
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: