#JouMenseMyMense saam met SPAR – Versorg die Versorger, reeks DRIE
In Januarie 2021 het GROOTfm 90.5 met behulp van ‘n GEEmeenskap van luisteraars, vyf hospitale besoek en meer as 1 000 geskenkpakkies gevul met bederfies en boodskappe van waardering aan die personeel in die Covid-sale uitgedeel! (Vir die volledige artikel klik hier: https://www.grootfm.co.za/2021/02/10/joumensemymense-saam-spar-versorg-die-versorger/)
In Julie vanjaar was dit tyd vir reeks TWEE van die ‘Versorg die Versorger’-veldtog. Die keer, digitaal!
GROOTfm 90.5 het hande en harte gevat met ‘Pray United’ om ‘n aanlyn-gebedskamer beskikbaar te stel vir 24 uur – van 6 vm tot 6 vm. Die omroepers het deurnag uitgesaai en saam met uurlikse inspirasie-insetsels van onder meer Jannie Putter, Lindie Strydom, Retief Burger en Johan Smith, gepoog om voorste linie werkers, sowel as mense wat deur die pandemie beinvloed en geraak is, se siele te vul met hoop en Sy waarheid. Dit was nodig, aangesien die wêreld vlaag op vlaag beleef het, sonder verligting van Covid 19. Die onsekerheid oor die virus, wie sterf en wie oorleef, het ‘n berugte vraag op almal se lippe geword, wat ‘n twyfel en vrees toegang gegee het na ons harte toe.
Luisteraars het deurnag boodskappe gestuur, aan geliefdes langs EN IN ‘n hospitaalbed. Ons het saam gebid vir genesing en saam oorwinning verklaar, en ons oë opnuut gevestig op die Een wat alle twyfel en onsekerheid met Sy lewende water kan wegspoel.
Die vlae en vrae hou aan om Suid-Afrikaners se gemoedere soos ‘n tsunami te bekruip en bedreig. Dis toe wat Schalk Mulder van Immunadue, en Riëtte Oosthuizen van Riëtte Oosthuizen Prokereurs einde Julie met GROOTfm 90.5 kontakmaak. Hulle sê beide die gesondheids- en voorste linie werkers het ons nodig. Kan ons nie iets doen nie? Ons het hulle vlees vroeër die jaar bederf, en toe hul gees…nou vir iets wat hulle weer sal herinner dat hulle waardeer word, gesien word, en geliefd is! Dat hulle waagmoed en hardwerkendheid ons inspireer.
Ons wou vir hulle iets volhoubaar gee. Iets wat hulle elke dag kan herinner. Die antwoord? ‘n Koffiebeker met die woorde: ‘Thank you for everything you do. Fill this cup, and cheers to you.’ Agterop is daar ‘n skrifgedeelte wat die Here so duidelik aan ons gegee het. 2 Corinthians 20:17 – “You will not have to fight this battle. Take up your positions; stand firm and see the deliverance the LORD will give you. Do not be afraid; do not be discouraged. Go out to face them tomorrow, and the LORD will be with you.”
Saam met die koffiebekers, het 1 000 mense van 50 onderskeie instansies – van Lancet en Ampath laboratoriums, tot ‘n mobiele toetssentrum van die Departement van Gesondheid, en 10 hospitale – botteltjies Immunadue ontvang, en koffie-, tee- en warm-sjokolade-sakkies met ‘n paar lekker happies met liefde van SPAR.
Ons klink opnuut ‘n glasie en ‘n koffiebeker, op almal wat vreesloos veg vir iemand anders se lewe, sowel as hul eie. Kom ons neem posisie in, en sien hoe die Here uitkoms gee, beredder, en genees. ‘n GROOT dankie aan Immunadue, Riëtte Oosthuizen Prokereurs en aan SPAR, wat saam met ons hierdie glasies en koffiebekers vol hou, sodat ons oor en oor kan skink, klink en aan jou, oorwinnaar in Christus kan dink!
Fotos: Jislaai-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: